Want hierdie keer sal Ek al my plae in jou hart stuur, en teen jou dienaars en jou volk, dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde is soos Ek nie.
Toe sê die HERE vir Josua: Wees vir hulle nie bevrees nie; want môre omtrent sulke tyd sal Ek hulle, almal verslaan, aan Israel oorgee; hulle perde se hakskeensenings moet jy afsny en hulle waens met vuur verbrand.
Laat hulle aanbring en ons te kenne gee wat gaan gebeur! Gee te kenne die vorige dinge, hoedanig hulle was, sodat ons daarop kan ag gee en van die afloop daarvan kan kennis neem. Of laat ons die toekomende dinge hoor! Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is; ja, doen goed of doen kwaad, dat ons verbaas kan staan en dit saam kan sien.
AL die nasies het saam vergader, en die volke is versamel. Wie onder hulle kan sulke dinge verkondig? En laat hulle ons die vorige dinge bekend maak! Laat hulle hul getuies bring, dat hulle in die gelyk gestel kan word; en laat hulle hoor en sê: Dit is die waarheid!
Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit: Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur.
net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar. ... Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.
NÁ hierdie dinge het ek gesien — kyk, ’n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ’n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.