Kruisverwysings → Genesis 40:8

En hulle antwoord hom: Ons het ’n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie. En Josef vra hulle: Is uitlegging nie ’n saak van God nie? Vertel my tog.

Is uitlegging nie ’n saak van God nie

Genesis 41:15-16
Toe sê Farao vir Josef: Ek het ’n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy ’n droom net hoef te hoor om dit uit te lê. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao ’n gunstige antwoord gee.
Job 33:15-16
In die droom, in ’n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle;
Psalms 25:14
Samek. Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.
Jesaja 8:19
En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel—moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?
Daniël 2:11,28,47
Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie. ... Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit: ... Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.
Daniël 4:8
totdat eindelik Daniël voor my ingekom het, wie se naam Béltsasar is, na die naam van my god, en in wie die gees van die heilige gode is; en ek het hom die droom vertel:
Daniël 5:11-15
Daar is ’n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is: in die dae van u vader is verligting en insig en wysheid soos die wysheid van die gode in hom gevind; daarom het u vader, koning Nebukadnésar, hom as owerste van die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs, die waarsêers aangestel—u vader, o koning! — omdat in hom ’n voortreflike gees en kennis en verstand gevind is om drome uit te lê en raaisels op te los en knope los te maak—in Daniël aan wie die koning die naam van Béltsasar gegee het; laat Daniël nou geroep word, dan sal hy die uitlegging te kenne gee. Toe is Daniël voor die koning gebring; die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Is jý Daniël wat by die Joodse ballinge behoort, wat die koning, my vader, uit Juda gebring het? Ek het van jou gehoor dat die gees van die gode in jou is, en dat verligting en verstand en voortreflike wysheid in jou gevind word. Nou net is die wyse manne, die besweerders, voor my gebring om hierdie skrif te lees en sy uitlegging aan my bekend te maak; maar hulle is nie in staat om die uitlegging van die woord te kenne te gee nie.
1 Korinthiërs 12:10-11
aan ’n ander werkinge van kragte, aan ’n ander profesie, aan ’n ander onderskeiding van die geeste, aan ’n ander allerhande tale, aan ’n ander uitleg van tale. Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.
Amos 3:7
Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.