Toe antwoord hy hom: U weet self hoe ek u gedien het en wat u vee by my geword het. Want min was dit wat u vóór my koms gehad het, en dit het sterk vermeerder; en die HERE het u geseën op my voetspoor. Wanneer sal ek dan nou ook vir my huis werk? En hy vra: Wat moet ek jou gee? Toe antwoord Jakob: U hoef my niks te gee nie. As u hierdie ding vir my wil doen, wil ek weer u kleinvee oppas, ja, versorg—
En die manne is herders van kleinvee—want hulle was veeboere—en hulle het hul kleinvee en hul beeste en alles wat hulle besit, saamgebring. En as Farao julle laat roep en sê: Wat is julle nering? dan moet julle antwoord: U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe, ons sowel as ons vaders—sodat julle in die land Gosen kan woon. Want elke herder van kleinvee is vir die Egiptenaars ’n gruwel.
EN Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van Mídian. En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van God, by Horeb.
En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande.
En Adam het sy vrou weer beken, en sy het ’n seun gebaar en hom Set genoem. Want, het sy gesê, God het my ’n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het. En ook vir Set is ’n seun gebore, wat hy Enos genoem het. Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep.
Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan.
Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie. ... nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie. En waarom het hy hom doodgeslaan? Omdat sy werke boos was en dié van sy broer regverdig. ... Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.