Kruisverwysings → Genesis 4:17

En Kain het sy vrou beken, en sy het swanger geword en Henog gebaar. Daarna bou hy ’n stad en noem die stad na die naam van sy seun Henog.

Henog

Genesis 5:18,22
Toe Jered honderd-twee-en-sestig jaar oud was, het hy die vader van Henog geword. ... En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog driehonderd jaar met God gewandel. En hy het seuns en dogters gehad.

bou hy ’n stad

Genesis 11:4
En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.
Prediker 2:4-11
Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant. Ek het vir my damme gemaak om daaruit ’n bos met jong bome te besproei. Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek het ook ’n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor my in Jerusalem gewees het. Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en ’n eiendom van konings en provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die mensekinders: lieflinge in menigte. En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem gewees het; ook het my wysheid by my gebly. En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid. Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.
Daniël 4:30
het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?
Lukas 17:28-29
Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig.

noem die stad na die naam van sy seun

2 Samuel 18:18
En Absalom het gedurende sy lewe die gedenksteen wat in die koningsdal staan, geneem en vir homself opgerig met die woorde: Ek het geen seun om my naam in gedagtenis te hou nie; en hy het die gedenksteen na sy naam genoem, en dit word tot vandag toe genoem die gedenkteken van Absalom.
Psalms 49:12
Hulle binneste gedagte is: hul huise sal vir ewig wees, hul wonings van geslag tot geslag; hulle noem die lande na hul name.