En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet.
En jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees. Die HERE sal die reën van jou land poeier en stof maak; van die hemel sal dit op jou afkom totdat jy verdelg is.
Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: ’n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.
En wat aangaan diegene wat onder julle oorgebly het—Ek sal in hulle hart ’n vreesagtigheid bring in die lande van hulle vyande, sodat die geruis van ’n verwaaide blaar hulle op die loop sal ja; en hulle sal vlug, soos ’n mens vir ’n swaard vlug en val sonder dat iemand agtervolg.
En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie, en vir jou voetsool sal daar geen rusplek wees nie; maar die HERE sal jou daar ’n bewende hart gee en smagtende oë en ’n kwynende siel. En jou lewe sal voor jou aan ’n draad hang, en jy sal nag en dag skrik en van jou lewe nie seker wees nie.
Maar die volgende dag het Pashur Jeremia uit die blok laat uithaal. Toe sê Jeremia vir hom: Die HERE noem jou nie Pashur nie, maar Skrik—rondom! Want so spreek die HERE: Kyk, Ek maak jou ’n skrik vir jouself en vir al jou vriende; en hulle sal val deur die swaard van hul vyande, terwyl jou oë dit sien, en die hele Juda sal Ek gee in die hand van die koning van Babel, wat hulle in ballingskap sal wegvoer na Babel en hulle met die swaard sal verslaan.