Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee.
Want wysheid sal in jou hart kom, en kennis vir jou siel lieflik wees; ... om jou te red van die vreemde vrou, van die ontugtige wat met haar woorde vlei (wat die vriend van haar jeug verlaat, en die verbond van haar God vergeet; want haar huis sink weg na die dood en haar paaie na die skimme; almal wat by haar ingaan, kom nie terug nie en bereik die paaie van die lewe nie)
want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie, maar op die end is sy bitter soos wilde-als, soos ’n swaard aan weerskante skerp. Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe. Dat sy die pad na die lewe nie sou inslaan nie, wankel haar gange sonder dat sy dit weet. Luister dan nou na my, julle seuns, en wyk nie af van die woorde van my mond nie. Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie,
BEWAAR, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals; mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word. Want die gebod is ’n lamp en die onderwysing ’n lig en die teregwysinge van die tug ’n weg tot die lewe, om jou te bewaar vir ’n slegte vrou, vir die gevlei van ’n vreemde tong. Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie; ... So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie. ... Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hý doen so iets; slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie;
sodat hulle jou kan bewaar vir die vreemde vrou, vir die ontugtige wat met haar woorde vlei. ... Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie, dwaal nie rond op haar paaie nie. Want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk almal wat deur haar vermoor is. Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood.
Vrou Dwaasheid is onrustig, pure eenvoudigheid en heeltemal onkundig; en sy sit by die deur van haar huis, op ’n stoel op die hoogtes van die stad, om te nooi die wat op die weg verbygaan, die wat op hulle paaie reguit wandel: Wie eenvoudig is, laat hy inkom hierheen! En die verstandelose, aan hom sê sy: Gesteelde waters is soet, en brood in die geheim geëet, is lekker. Maar hy weet nie dat dáár skimme is, dat haar genooides in die dieptes van die doderyk is nie.
My seun, gee my jou hart, en laat jou oë ’n welgevalle hê in my weë. Want ’n hoer is ’n diep kuil, en ’n ontugtige vrou is ’n nou put. Sy lê ook en loer soos ’n rower en vermeerder die ontroues onder die mensdom.