En elke dogter wat ’n erfdeel kry, uit die stamme van die kinders van Israel, moet die vrou word van een uit die geslag van die stam van haar vader, sodat die kinders van Israel elkeen die erfdeel van sy vaders kan erwe. So sal dan ’n erfdeel nie van een stam na ’n ander stam oorgaan nie; want die stamme van die kinders van Israel moet elkeen sy erfdeel vashou.
AS broers bymekaar woon en een van hulle sterwe sonder dat hy ’n seun het, dan mag die vrou van die oorledene nie daarbuite ’n vreemde man s’n word nie; haar swaer moet by haar ingaan en haar as sy vrou neem en die swaershuwelik met haar sluit; en die eersgeborene wat sy baar, moet staan op naam van sy oorlede broer, dat sy naam nie uit Israel uitgedelg word nie. Maar as dit die man nie beval om sy skoonsuster te neem nie, moet sy skoonsuster na die poort opgaan na die oudstes toe, en sê: My swaer weier om sy broer se naam in Israel in stand te hou; hy wil met my die swaershuwelik nie sluit nie — dan moet die oudstes van sy stad hom roep en met hom spreek; bly hy dan daarby staan en sê: Dit beval my nie om haar te neem nie — dan moet sy skoonsuster voor die oë van die oudstes na hom toe nader kom en sy skoen van sy voet aftrek en in sy gesig spuug, en sy moet verklaar en sê: So moet met die man gedoen word wat die huis van sy broer nie wil bou nie. En sy naam moet in Israel genoem word: Die huis van die kaalvoet.
Daarop sê Boas: Die dag as jy die grond uit die hand van Naómi koop, dan verwerf jy tegelyk Rut, die Moabitiese, die vrou van die dode, om die naam van die dode in stand te hou oor sy erfdeel. En die losser sê: Ek kan dit nie vir my los nie, anders bederf ek my erfdeel; neem jy my lossingsreg oor, want ek kan nie los nie. En dít was vroeër in Israel die gebruik by lossing en by ruiling om enige saak van krag te maak: die een trek sy skoen uit en gee dit aan die ander; dit was dan die bekragtiging in Israel. Daarom het die losser vir Boas gesê: Koop dit vir jou; en hy het sy skoen uitgetrek. Toe sê Boas aan die oudstes en al die mense: Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Eliméleg en alles wat aan Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naómi koop. En ook Rut, die Moabitiese, die vrou van Maglon, verwerf ek vir my as vrou om die naam van die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die dode onder sy broers en uit die poort van sy woonplek nie uitgeroei word nie. Julle is vandag getuies. Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes: Ons is getuies; mag die HERE die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Éfrata en maak ’n naam in Betlehem!
DIESELFDE dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom en sê: Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek. Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat. So ook die tweede en die derde tot die sewende toe. En laaste van almal het die vrou ook gesterwe.