Ná omtrent drie maande het hulle Juda laat weet en gesê: Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery! En Juda sê: Bring haar uit, dat sy verbrand kan word.
En ek het iets uitgevind bitterder as die dood: die vrou wat strikke is, haar hart nette, haar hande boeie; hy wat goed is voor die aangesig van God, sal van haar vryraak, maar die sondaar word deur haar gevang.
Want van ouds af het jy jou juk verbreek, jou stroppe stukkend geruk. En jy het gesê: Ek sal nie dien nie; want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom gaan jy lê om te hoereer.
HY sê: As ’n man sy vrou verstoot, en sy gaan van hom af weg en word ’n ander man s’n, kan hy dan nog na haar teruggaan? Sal daardie land nie skandelik ontheilig word nie? En jy het met baie minnaars gehoereer en wil na My terugkom, spreek die HERE! ... EN die HERE het vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige, Israel, gedoen het? Sy het op elke hoë berg en tot onder elke groen boom gegaan en daar gehoereer. ... En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het.
Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam; en jy het jou hoererye uitgestort op elkeen wat verbygegaan het, dat dit syne sou wees. ... Verder het jy gehoereer met die kinders van Assur, omdat jy nie bevredig was nie; ja, jy het met hulle gehoereer en is tog nie bevredig nie. ... Hulle sal ook jou huise met vuur verbrand en strafgerigte teen jou oefen voor die oë van baie vroue; en Ek sal ’n einde aan jou hoerery maak, en jy sal ook nie meer hoereloon gee nie.
En Ohóla het gehoereer terwyl sy my vrou was, en het gesmag na haar minnaars, na die Assiriërs, krygshaftige mense ... Ja, sy het haar hoererye baie gemaak deur te dink aan die dae van haar jeug toe sy ’n hoer was in Egipteland. ... En hulle het by haar ingegaan soos ’n mens ingaan by ’n hoer; só het hulle ingegaan by Ohóla en Ohóliba, die ontugtige vroue.
Want hulle moeder het in ontug gelewe, sy wat met hulle swanger was, het skandelike dinge gedoen; want sy het gesê: Ek wil my minnaars agternaloop wat my brood en my water, my wol en my vlas, my olie en my drank gee.
As jy hoereer, o Israel, laat Juda hom tog nie skuldig maak nie! Kom dan nie na Gilgal nie, en gaan nie op na Bet-Awen nie, en sweer nie: So waar as die HERE leef!
Maar God het in die nag by Abiméleg gekom in ’n droom en vir hom gesê: Kyk, jy sal sterwe ter wille van die vrou wat jy laat haal het, want sy is ’n getroude vrou. ... Gee dan nou die man se vrou terug, want hy is ’n profeet; en hy sal vir jou bid, dat jy kan lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik sal sterwe, jy en almal wat aan jou behoort. ... En Abiméleg het Abraham laat roep en hom gevra: Wat het jy ons aangedoen? En wat het ek teen jou gesondig, dat jy oor my en my koninkryk ’n groot sonde gebring het? Dinge wat nie mag gebeur nie, het jy my aangedoen.
dan moet hulle die dogter na die deur van haar vader se huis uitbring, en die manne van haar stad moet haar stenig, dat sy sterwe, omdat sy ’n skanddaad in Israel begaan het deur in die huis van haar vader te hoereer. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei. AS ’n man betrap word terwyl hy met ’n getroude vrou gemeenskap het, moet hulle altwee sterwe: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het, en die vrou. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei. As ’n dogter, ’n jongmeisie, aan ’n man verloof is, en iemand kry haar in die stad en hou met haar gemeenskap, dan moet julle hulle twee na die poort van dié stad uitbring en hulle stenig, dat hulle sterwe; die dogter, omdat sy in die stad nie geskreeu het nie, en die man, omdat hy die vrou van sy naaste onteer het. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei. Maar as die man die verloofde dogter in die veld kry en die man haar aangryp en met haar gemeenskap het, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, alleen sterwe; maar aan die dogter moet jy niks doen nie: daar is in die dogter geen sonde wat die dood verdien nie; want soos wanneer ’n man teen sy naaste opstaan en hom doodslaan, so is hierdie geval. Want hy het haar in die veld gekry; die verloofde dogter het geskreeu, maar daar was niemand om haar te help nie.
En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die HERE leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe! ... Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die HERE, die God van Israel: Ék het jou as koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul;
En aan hulle sal ’n vloek ontleen word by al die ballinge van Juda wat in Babel is, deurdat gesê word: Mag die HERE jou maak soos Sedekía en soos Agab, wat die koning van Babel in die vuur gebraai het! — omdat hulle ’n skanddaad in Israel begaan het en owerspel met die vroue van hulle naaste bedryf het en ’n leuenwoord in my Naam gespreek het, wat Ek hulle nie beveel het nie; en Ek is die Een wat weet en getuie is, spreek die HERE.
MOENIE oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.
DAAROM is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy ’n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen.