En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet.
En Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos ná die dood van sy moeder.
Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal sy skape skeer, stuur Dawid tien jongmanne, en Dawid sê aan die jongmanne: Trek op na Karmel en gaan by Nabal in en vra hom in my naam na die welstand; en so moet julle aan die welvarende sê: Mag dit goed gaan met u sowel as met u huis, en goed gaan met alles wat u besit. En nou, ek het gehoor dat u skeerders het; nou ja, u wagters was met ons saam; ons het hulle nie beledig nie, en hulle het ook niks vermis al die dae wat hulle in Karmel was nie. Vra u dienaars, en hulle sal u dit te kenne gee; laat dus die jongmanne guns vind in u oë, want ons het op ’n vrolike dag gekom; gee tog wat u byderhand het aan u dienaars en aan u seun Dawid. ... Toe Abígail by Nabal kom, het hy juis ’n maaltyd in sy huis aangerig soos die maaltyd van ’n koning; en Nabal se hart was vrolik in hom, en hy was baie dronk; daarom het sy hom niks, klein of groot, meegedeel totdat dit die môre lig word nie.
En ná twee volle jare het Absalom skeerders gehad in Baäl-Hasor wat by Efraim is, en Absalom het al die seuns van die koning genooi. Daarop kom Absalom by die koning en sê: Kyk tog, u dienaar het skeerders. Laat die koning en sy dienaars tog met u dienaar saamgaan. Maar die koning sê vir Absalom: Ag nee, my seun, laat ons tog nie almal saamgaan nie, sodat ons jou nie lastig val nie. En hy het by hom aangehou, maar hy wou nie gaan nie en het hom die afskeidseën gegee. Daarop sê Absalom: So nie, laat my broer Amnon tog saam met ons gaan. Maar die koning sê vir hom: Waarom moet hy met jou saamgaan? Toe Absalom dan by hom aanhou, het hy Amnon en al die seuns van die koning met hom saam laat gaan. En Absalom het sy dienaars bevel gegee en gesê: Let tog op, net soos Amnon se hart vrolik is van die wyn en ek vir julle sê: Slaan Amnon dood! dan moet julle hom doodmaak. Wees nie bevrees nie; het ék julle dit nie beveel nie? Wees sterk en wees wakker manne. En die dienaars van Absalom het met Amnon gedoen soos Absalom hulle beveel het. Toe het al die seuns van die koning opgestaan, en hulle het elkeen op sy muil geklim en gevlug.
Dan swaai die lyn van Báäla af weg in westelike rigting na die gebergte Seïr en loop oor na die noordelike hang van die berg Jeárim, dit is Késalon, en loop af na Bet-Semes en loop oor na Timna. ... Jarmut en Adúllam, Sogo en Aséka, ... Senan en Hadása en Migdal-Gad,