Die swaard van die HERE is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die HERE het ’n slagoffer in Bosra en ’n groot slagting in die land Edom.
WIE is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos.
Want Ek het by Myself gesweer, spreek die HERE, dat Bosra ’n voorwerp van verbasing, van smaad, ’n woestheid en ’n vervloeking sal word; en al sy stede sal ewige puinhope wees. ... Kyk, een sal opstyg en vlieg soos ’n arend en sy vlerke oor Bosra uitsprei; en die hart van die helde van Edom sal in dié dag wees soos die hart van ’n vrou wat in nood is.
Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in ’n kraal, soos ’n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense.