En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. ... En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ’n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.
En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.
Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie; ’n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ’n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver. Ook sal Edom ’n besitting wees; en Seïr, sy vyande, sal ’n besitting wees, maar Israel neem toe in krag.
As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in besit neem en daarin woon en dan sê: Ek wil ’n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is, dan moet jy sekerlik ’n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ’n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie. Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien die HERE vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie. Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie. En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet in ’n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê; en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om die HERE sy God te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen; sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie; dat hy die dae kan verleng in sy koninkryk, hy en sy seuns, onder Israel.
En Hy het Koning geword in Jesúrun, toe die hoofde van die volk vergader het, die stamme van Israel almal saam. ... Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ’n Volk wat deur die HERE verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande hulle al kruipende aan jou onderwerp; maar jý sal op hulle hoogtes stap.
En dit is die konings wat in die land Edom geregeer het voordat daar ’n koning oor die kinders van Israel geregeer het: Bela, die seun van Beor; en die naam van sy stad was Dinhába; en Bela het gesterwe, en in sy plek het geregeer Jobab, die seun van Serag, uit Bosra. En Jobab het gesterwe, en Husam, uit die land van die Temaniete, het in sy plek geregeer. En Husam het gesterwe, en Hadad, die seun van Bedad, wat die Midianiete in die veld van Moab verslaan het, het in sy plek geregeer; en die naam van sy stad was Awit. En Hadad het gesterwe, en Samla uit Másreka het in sy plek geregeer. En Samla het gesterwe, en Saul uit Réhobot, aan die rivier, het in sy plek geregeer. En Saul het gesterwe, en Baäl-Hánan, die seun van Akbor, het in sy plek geregeer. Nadat Baäl-Hánan gesterf het, het Hadad in sy plek geregeer; en die naam van sy stad was Pahi; en die naam van sy vrou was Mehetábeël, die dogter van Matred, die dogter van Mésahab.