Daarop het hulle omgedraai en by En-Mispat, dit is Kades, gekom en die hele land van die Amalekiete verower en ook die Amoriete wat in Háseson-Tamar woon.
DAAROP het Ámalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg. En Moses het aan Josua gesê: Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Ámalek. Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand. En Josua het gedoen soos Moses aan hom gesê het, om te veg teen Ámalek. Maar Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim. En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Ámalek die sterkste. Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle ’n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder. En Josua het Ámalek en sy volk met die skerpte van die swaard ’n neerlaag toegebring. Toe sê die HERE vir Moses: Skrywe dit as ’n aandenking in ’n boek en prent dit Josua in, dat Ek die gedagtenis van Ámalek onder die hemel heeltemal sal uitdelg. En Moses het ’n altaar gebou en dit genoem: Die HERE is my banier. En hy het gesê: Waarlik, die hand op die troon van die HERE! Oorlog het die HERE teen Ámalek van geslag tot geslag.
Ook sal Edom ’n besitting wees; en Seïr, sy vyande, sal ’n besitting wees, maar Israel neem toe in krag. En laat daar een uit Jakob heers en die vrygeraaktes uit die stede vernietig. Toe hy Ámalek sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Ámalek is die eersteling van die heidene, maar sy einde is ondergang.
Die Edomiet moet jy nie as ’n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Egiptenaar moet jy nie as ’n gruwel beskou nie, want jy was ’n vreemdeling in sy land.
DINK aan wat Ámalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het, hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy God nie gevrees het nie. As dan die HERE jou God vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan moet jy die gedagtenis van Ámalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.
So sê die HERE van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Ámalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte. Gaan nou en verslaan Ámalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel. Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Teláim: tweehonderdduisend voetgangers en tienduisend man van Juda. En toe Saul by die stad van Ámalek aankom en in die dal ’n hinderlaag opstel, sê Saul vir die Keniete: Gaan weg, verwyder julle, trek af onder die Amalekiete uit, dat ek julle nie met hulle saam wegruim nie; want julle het guns bewys aan al die kinders van Israel by hulle optog uit Egipte. Toe het die Keniete hulle verwyder onder die Amalekiete uit. En Saul het die Amalekiete verslaan van Hawíla af in die rigting van Sur wat oos van Egipte lê. En Agag, die koning van Ámalek, het hy lewendig gevang, maar die hele volk deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref. Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was—dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref.