Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is.
En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my. Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring. En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ’n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.
Verder het Gídeon vir hulle gesê: Ek wil aan julle ’n versoek doen: Gee nou elkeen vir my die ring uit sy buit! Want hulle het goue ringe gedra, omdat hulle Ismaeliete was. Toe sê hulle: Ons wil dit graag gee; en hulle het ’n mantel uitgesprei en elkeen ’n ring van sy buit daarop gegooi. En die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was sewentienhonderd sikkels goud, behalwe die maantjies en die oorversiersels en purper klere wat die konings van Mídian gedra het, en behalwe die kettings wat aan die nekke van hulle kamele was. En Gídeon het daar ’n skouerkleed van gemaak en dit in sy stad, in Ofra, opgestel; en die hele Israel het dit daar agternagehoereer, en dit het vir Gídeon en sy huis ’n strik geword.
So besoek Ek dan aan haar die dae van die Baäls toe sy vir hulle offerrook laat opgaan het en haar met haar neusring en haar halssierade versier en haar minnaars agternageloop het; maar My het sy vergeet, spreek die HERE.
En hy het die kalf geneem wat hulle gemaak het, en dit in die vuur verbrand en dit fyn gemaal. Toe het hy dit op die water gestrooi en die kinders van Israel dit laat drink.
Maar julle moet met hulle so doen: hulle altare moet julle omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme omkap en hulle gesnede beelde met vuur verbrand. ... Die gesnede beelde van hulle gode moet julle met vuur verbrand; die silwer en die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou neem nie, dat jy nie daardeur verstrik raak nie; want dit is vir die HERE jou God ’n gruwel.
En julle sal verontreinig die oortreksel van jou gesnede beelde van silwer en die beslag van jou gegote beeld van goud; jy sal dit weggooi soos iets wat besoedel is. Weg daarmee! sal jy daarvan sê.
En op dié dag het Josua met die volk ’n verbond gesluit en vir hulle ’n insetting en ’n reg vasgestel in Sigem. En Josua het hierdie woorde in die wetboek van God geskrywe en ’n groot klip geneem en dié daar opgerig onder die eikeboom wat by die heilige plek van die HERE is.
Daarop het al die burgers van Sigem en die hele huis Millo bymekaargekom en Abiméleg gaan koning maak by die terpentynboom van die gedenkteken wat by Sigem is.