My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban, en bly ’n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar, tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?
So het Isak Jakob dan weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, die seun van Bétuel, die Arameër, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en Esau.
Toe kom daar een wat vrygeraak het, en vertel dit aan Abram, die Hebreër, wat woonagtig was by die terpentynbome van Mamre, die Amoriet, broer van Eskol en broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram.
En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. ... Daarna het Abraham toe sy vrou Sara begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, oostelik van Mamre, dit is Hebron, in die land Kanaän.
Gee my dan nou hierdie bergland waarvan die HERE daardie dag gespreek het; want u self het dié dag gehoor dat dáár Enakiete is en groot versterkte stede; miskien sal die HERE met my wees, sodat ek hulle kan verdrywe, soos die HERE gespreek het. Toe het Josua hom geseën en aan Kaleb, die seun van Jefúnne, Hebron as erfdeel gegee. Daarom het Hebron die erfdeel geword van Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, tot vandag toe, omdat hy volgehou het om die HERE, die God van Israel, te volg. En die naam van Hebron was tevore stad van Arba; hy was die grootste man onder die Enakiete. En die land het gerus van oorlog.
Maar aan Kaleb, die seun van Jefúnne, het hy ’n aandeel onder die kinders van Juda gegee, volgens die bevel van die HERE aan Josua: die stad van Arba, die vader van Enak, dit is Hebron.
EN daarna het Dawid die HERE geraadpleeg en gesê: Sal ek optrek in een van die stede van Juda? En die HERE het hom geantwoord: Trek op. Toe sê Dawid: Waarheen moet ek optrek? En Hy antwoord: Na Hebron. ... Dawid het ook sy manne wat by hom was, laat optrek, elkeen met sy huisgesin, en hulle het in die stede van Hebron gaan woon. ... En die getal dae wat Dawid koning was in Hebron oor die huis van Juda, was sewe jaar en ses maande.
TOE kom al die stamme van Israel na Dawid in Hebron, en hulle spreek en sê: Hier is ons, u been en u vlees is ons! ... So het dan al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom; en koning Dawid het met hulle ’n verbond in Hebron gesluit voor die aangesig van die HERE, en hulle het Dawid as koning oor Israel gesalf. ... In Hebron het hy oor Juda sewe jaar en ses maande geregeer, en in Jerusalem het hy drie-en-dertig jaar oor die hele Israel en Juda geregeer.