Kruisverwysings → Genesis 35:23

Die seuns van Lea was: Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna Símeon en Levi en Juda en Íssaskar en Sébulon.

seuns van Lea

Genesis 29:32-35
En Lea het bevrug geword en ’n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, die HERE het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê. En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Gewis, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem. En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem. En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek die HERE loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.
Genesis 30:18-20
Toe sê Lea: God het my loon gegee, omdat ek my slavin aan my man gegee het. En sy het hom Íssaskar genoem. En Lea het weer bevrug geword en vir Jakob ’n sesde seun gebaar. Toe sê Lea: God het my ’n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar. En sy het hom Sébulon genoem.
Genesis 33:2
En hy het die slavinne met hulle kinders eerste, en Lea met haar kinders daaragter, en Ragel en Josef laaste opgestel;
Genesis 46:8-15
En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het—Jakob en sy seuns. Die eersgeborene van Jakob was Ruben. En die seuns van Ruben: Henog en Pallu en Hesron en Karmi. En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van die Kanaänitiese vrou. En die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merári. En die seuns van Juda: Er en Onan en Sela en Peres en Serag. Maar Er en Onan het gesterwe in die land Kanaän; en die seuns van Peres was Hesron en Hamul. En die seuns van Íssaskar: Tola en Puwa en Job en Simron. En die seuns van Sébulon: Sered en Elon en Jágleël. Dit is die seuns van Lea wat sy vir Jakob gebaar het in Paddan-Aram, saam met sy dogter Dina; al die siele van sy seuns en dogters was drie-en-dertig.