Kruisverwysings → Genesis 35:22

En terwyl Israel in dié land woon, het Ruben gegaan en met Bilha, sy vader se byvrou, gemeenskap gehad. En Israel het dit gehoor. En die seuns van Jakob was twaalf.

gemeenskap gehad

Genesis 49:4
Opbruising soos van waters—jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim.
Levitikus 18:8
Jy mag die skaamte van die vrou van jou vader nie ontbloot nie; dit is die skaamte van jou vader.
2 Samuel 16:21-22
En Agitófel sê vir Absalom: Gaan in by die byvroue van u vader wat hy laat agterbly het om die huis op te pas. Dan sal die hele Israel hoor dat u u gehaat gemaak het by u vader, en die hande van almal wat by u is, sal versterk word. Hulle het toe vir Absalom ’n tent op die dak opgeslaan, en Absalom het voor die oë van die hele Israel by die byvroue van sy vader ingegaan.
2 Samuel 20:3
Toe Dawid in sy huis in Jerusalem kom, het die koning die tien vroue, die byvroue wat hy laat agterbly het om die huis op te pas, geneem en in ’n bewaakte huis gesit en hulle onderhou, maar nie by hulle ingegaan nie; en hulle was opgesluit tot die dag van hulle dood as lewenslange weduwees.
1 Kronieke 5:1
EN die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel—want hy was die eersgeborene; maar omdat hy die bed van sy vader ontheilig het, is sy eersgeboortereg aan die seuns van Josef, die seun van Israel, gegee, maar hy moes nie in die geslagsregister volgens die eersgeboortereg aangegee word nie;
1 Korinthiërs 5:1
N MENS hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ’n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.

seuns van Jakob

Genesis 35:18
En toe haar siel uitgaan—want sy het gesterwe—noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem.
Genesis 29:31-35
En toe die HERE sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar. En Lea het bevrug geword en ’n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, die HERE het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê. En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Gewis, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem. En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem. En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek die HERE loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.
Genesis 30:5-24
En Bilha het swanger geword en vir Jakob ’n seun gebaar. Toe sê Ragel: God het aan my reg verskaf en my ook verhoor en my ’n seun gegee. Daarom het sy hom Dan genoem. En Bilha, die slavin van Ragel, het weer bevrug geword en vir Jakob ’n tweede seun gebaar. Toe sê Ragel: Ek het bomenslike worstelinge met my suster geworstel en ook oorwin. En sy het hom Náftali genoem. En toe Lea sien dat sy opgehou het met baar, neem sy haar slavin Silpa en gee haar aan Jakob as vrou. En Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob ’n seun gebaar. Toe sê Lea: Gelukkig! En sy het hom Gad genoem. Daarna het Silpa, die slavin van Lea, vir Jakob ’n tweede seun gebaar. Toe sê Lea: Ek, gelukkige! want die dogters sal my gelukkig prys. En sy het hom Aser genoem. En Ruben het in die dae van die koringoes gegaan en in die veld liefdesappels gevind en dié na sy moeder Lea gebring. Toe sê Ragel vir Lea: Gee my tog van jou seun se liefdesappels. Maar sy antwoord haar: Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy ook my seun se liefdesappels wil neem? En Ragel sê: Daarom mag hy vir jou seun se liefdesappels vannag by jou slaap. Toe Jakob dan die aand uit die veld kom, gaan Lea hom tegemoet met die woorde: Jy moet na mý kom, want ek het jou eerlik gehuur vir my seun se liefdesappels. En hy het dié nag by haar geslaap. En God het Lea verhoor: sy het bevrug geword en vir Jakob ’n vyfde seun gebaar. Toe sê Lea: God het my loon gegee, omdat ek my slavin aan my man gegee het. En sy het hom Íssaskar genoem. En Lea het weer bevrug geword en vir Jakob ’n sesde seun gebaar. Toe sê Lea: God het my ’n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar. En sy het hom Sébulon genoem. En daarna het sy ’n dogter gebaar en haar Dina genoem. En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen: sy het bevrug geword en ’n seun gebaar. Toe sê sy: God het my smaad weggeneem. En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag die HERE vir my ’n ander seun daar byvoeg!
Genesis 46:8-27
En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het—Jakob en sy seuns. Die eersgeborene van Jakob was Ruben. En die seuns van Ruben: Henog en Pallu en Hesron en Karmi. En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van die Kanaänitiese vrou. En die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merári. En die seuns van Juda: Er en Onan en Sela en Peres en Serag. Maar Er en Onan het gesterwe in die land Kanaän; en die seuns van Peres was Hesron en Hamul. En die seuns van Íssaskar: Tola en Puwa en Job en Simron. En die seuns van Sébulon: Sered en Elon en Jágleël. Dit is die seuns van Lea wat sy vir Jakob gebaar het in Paddan-Aram, saam met sy dogter Dina; al die siele van sy seuns en dogters was drie-en-dertig. En die seuns van Gad: Sifjon en Haggi, Suni en Esbon, Eri en Aródi en Areëli. En die seuns van Aser: Jimna en Jiswa en Jiswi en Bería en Serag, hulle suster; en die seuns van Bería: Heber en Málkiël. Dit is die seuns van Silpa wat Laban aan sy dogter Lea gegee het; en sy het vir Jakob hierdie sestien siele gebaar. Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob: Josef en Benjamin. En vir Josef is in Egipteland gebore Manasse en Efraim wat Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het. En die seuns van Benjamin: Bela en Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en Ros, Muppim en Huppim en Ard. Dit is die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is, almal saam veertien siele. En die seuns van Dan: Husim. En die seuns van Náftali: Jágseël en Guni en Jeser en Sillem. Dit is die seuns van Bilha wat Laban aan sy dogter Ragel gegee het; en sy het hulle vir Jakob gebaar, almal saam sewe siele. Al die siele wat aan Jakob behoort het en, uit sy heup afkomstig, na Egipte gegaan het, behalwe die vroue van die seuns van Jakob, was almal saam ses-en-sestig siele. En die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele. Al die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was sewentig.
Genesis 49:1-28
DAARNA het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar. Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader! Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag! Opbruising soos van waters—jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim. Símeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld. Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink. Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard. Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel. Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is ’n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin; wie sal hom opjaag? Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees. Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed. Hy is donkerder van oë as wyn en witter van tande as melk. Sébulon sal woon by die strand van die see; en hy sal by die strand van die skepe wees, met die sykant na Sidon toe. Íssaskar is ’n sterkgebeende esel wat tussen die veekrale lê. Toe hy sien dat die rus goed en die land lieflik is, het hy sy skouer gebuig om te dra, en hy moes dwangarbeid verrig. Dan sal aan sý volk reg verskaf net soos enigeen van die stamme van Israel. Laat Dan ’n slang wees op die weg, ’n horingslang op die pad, wat die perd aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteroorval. Op u verlossing wag ek, HERE! Gad—’n bende sal hom aanval, maar hý sal hulle aan die hakskeen gryp. Aser, sy spys is vet, en hý lewer koninklike lekkernye. Náftali is soos ’n wildsbok so vry, hy wat mooi woorde laat hoor. Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur. Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry, maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob—daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is, van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers. Benjamin is ’n wolf wat verskeur; in die môre eet hy sy prooi, en in die aand deel hy buit uit. Húlle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader aan hulle gesê het, en hy het hulle geseën; hy het hulle geseën, elkeen volgens sy besondere seën.
Eksodus 1:1-5
EN dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het; saam met Jakob het hulle gekom, elkeen met sy huisgesin: Ruben, Símeon, Levi en Juda; Íssaskar, Sébulon en Benjamin; Dan en Náftali, Gad en Aser. En al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele. Maar Josef was in Egipte.
Eksodus 6:13-15
DIT is die hoofde van hulle families. Die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel: Henog en Pallu, Hesron en Karmi; dit is die geslagte van Ruben. En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van die Kanaänitiese vrou; dit is die geslagte van Símeon. En dit is die name van die seuns van Levi volgens hulle afstamming: Gerson en Kehat en Merári. En die lewensjare van Levi was honderd-sewen-en-dertig jaar.
Númeri 1:5-15
En dit is die name van die manne wat julle moet bystaan: Vir Ruben: Elísur, die seun van Sedéür; vir Símeon: Selúmiël, die seun van Surísaddai; vir Juda: Nagson, die seun van Ammínadab; vir Íssaskar: Netáneël, die seun van Suar; vir Sébulon: Elíab, die seun van Helon; vir die kinders van Josef: vir Efraim: Elisáma, die seun van Ammíhud; vir Manasse: Gámliël, die seun van Pedásur; vir Benjamin: Abídan, die seun van Gideóni; vir Dan, Ahiëser, die seun van Ammísaddai; vir Aser: Págiël, die seun van Ogran; vir Gad: Éljasaf, die seun van Réhuel; vir Náftali: Ahíra, die seun van Enan.
Númeri 1:20-46
En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel—hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, hoof vir hoof, almal wat manlik was, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Ruben was ses-en-veertigduisend-vyfhonderd. Van die seuns van Símeon, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, hoof vir hoof, almal wat manlik was, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Símeon was negen-en-vyftigduisend-driehonderd. Van die seuns van Gad, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Gad was vyf-en-veertigduisend-seshonderd-en-vyftig. Van die seuns van Juda, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Juda was vier-en-sewentigduisend-seshonderd. Van die seuns van Íssaskar, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Íssaskar was vier-en-vyftigduisend-vierhonderd. Van die seuns van Sébulon, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Sébulon was sewen-en-vyftigduisend-vierhonderd. Van die seuns van Josef, van die seuns van Efraim, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Efraim was veertigduisend-vyfhonderd; van die seuns van Manasse, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Manasse was twee-en-dertigduisend-tweehonderd. Van die seuns van Benjamin, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Benjamin was vyf-en-dertigduisend-vierhonderd. Van die seuns van Dan, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Dan was twee-en-sestigduisend-sewehonderd. Van die seuns van Aser, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Aser was een-en-veertigduisend-vyfhonderd. Van die seuns van Náftali, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Náftali was drie-en-vyftigduisend-vierhonderd. Dit is die geteldes wat Moses en Aäron en die owerstes van Israel getel het; twaalf man was dit, elkeen vir sy families. So was dan al die geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in Israel op kommando moet uittrek — al die geteldes dan was seshonderd-en-drieduisend-vyfhonderd-en-vyftig.
Númeri 2:3-33
En die wat aan die oostekant, teen sonop, laer opslaan, moet wees: die vaandel van die laer van Juda volgens hulle leërafdelings; en Nagson, die seun van Ammínadab, moet owerste oor die seuns van Juda wees. En sy leër met hulle geteldes was vier-en-sewentigduisend-seshonderd. En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Íssaskar; en Netáneël, die seun van Suar, moet owerste oor die seuns van Íssaskar wees. En sy leër met hulle geteldes was vier-en-vyftigduisend-vierhonderd. Verder die stam van Sébulon; en Elíab, die seun van Helon, moet owerste oor die seuns van Sébulon wees. En sy leër met sy geteldes was sewen-en-vyftigduisend-vierhonderd. Al die geteldes in die laer van Juda was honderd-ses-en-tagtigduisend-vierhonderd volgens hulle leërafdelings. Hulle moet eerste opbreek. Die vaandel van die laer van Ruben volgens hulle leërafdelings moet aan die suidekant wees; en Elísur, die seun van Sedéür, moet owerste oor die seuns van Ruben wees. En sy leër met sy geteldes was ses-en-veertigduisend-vyfhonderd. En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Símeon; en Selúmiël, die seun van Surísaddai, moet owerste oor die seuns van Símeon wees. En sy leër met hulle geteldes was negen-en-vyftigduisend-driehonderd. Verder die stam van Gad; en Éljasaf, die seun van Réhuel, moet owerste oor die seuns van Gad wees. En sy leër met hulle geteldes was vyf-en-veertigduisend-seshonderden-vyftig. Al die geteldes in die laer van Ruben was honderd-een-en-vyftigduisend-vierhonderd-en-vyftig volgens hulle leërafdelings. En hulle moet tweede opbreek. Daarna moet die tent van samekoms opbreek: die laer van die Leviete, tussen die ander laers in. Soos hulle laer opslaan, so moet hulle opbreek, elkeen op sy plek volgens hulle vaandels. Die vaandel van die laer van Efraim volgens hulle leërafdelings moet aan die westekant wees; en Elisáma, die seun van Ammíhud, moet owerste oor die seuns van Efraim wees. En sy leër met hulle geteldes was veertigduisend-vyfhonderd. En langs hom die stam van Manasse; en Gámliël, die seun van Pedásur, moet owerste oor die seuns van Manasse wees. En sy leër met hulle geteldes was twee-en-dertigduisend-tweehonderd. Verder die stam van Benjamin; en Abídan, die seun van Gideóni, moet owerste oor die seuns van Benjamin wees. En sy leër met hulle geteldes was vyf-en-dertigduisend-vierhonderd. Al die geteldes in die laer van Efraim was honderd-en-agtduisend-eenhonderd volgens hulle leërafdelings. En hulle moet derde opbreek. Die vaandel van die laer van Dan moet aan die noordekant wees volgens hulle leërafdelings; en Ahiëser, die seun van Ammísaddai, moet owerste oor die seuns van Dan wees. En sy leër met hulle geteldes was twee-en-sestigduisend-sewehonderd. En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Aser; en Págiël, die seun van Ogran, moet owerste oor die seuns van Aser wees. En sy leër met hulle geteldes was een-en-veertigduisend-vyfhonderd. Verder die stam van Náftali; en Ahíra, die seun van Enan, moet owerste oor die seuns van Náftali wees. En sy leër met hulle geteldes was drie-en-vyftigduisend-vierhonderd. Al die geteldes in die laer van Dan was honderd-sewen-en-vyftigduisend-seshonderd. Hulle moet laaste opbreek volgens hulle vaandels. Dit is die geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families. Al die geteldes van die laers volgens hulle leërafdelings was seshonderd-en-drieduisend-vyfhonderd-en-vyftig. Maar die Leviete is onder die kinders van Israel nie getel nie, soos die HERE Moses beveel het.
Númeri 7:12-89
En hy wat op die eerste dag sy offer gebring het, was Nagson, die seun van Ammínadab, van die stam van Juda. En sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Nagson, die seun van Ammínadab. Op die tweede dag het Netáneël, die seun van Suar, die owerste van Íssaskar, aangebring — hy het sy offer gebring: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Netáneël, die seun van Suar. Op die derde dag die owerste van die kinders van Sébulon, Elíab, die seun van Helon. Sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Elíab, die seun van Helon. Op die vierde dag die owerste van die kinders van Ruben, Elísur, die seun van Sedéür. Sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Elísur, die seun van Sedéür. Op die vyfde dag die owerste van die kinders van Símeon, Selúmiël, die seun van Surísaddai. Sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Selúmiël, die seun van Surísaddai. Op die sesde dag die owerste van die kinders van Gad, Éljasaf, die seun van Réhuel. Sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Éljasaf, die seun van Réhuel. Op die sewende dag die owerste van die kinders van Efraim, Elisáma, die seun van Ammíhud. Sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Elisáma, die seun van Ammíhud. Op die agtste dag die owerste van die kinders van Manasse, Gámliël, die seun van Pedásur. Sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Gámliël, die seun van Pedásur. Op die negende dag die owerste van die kinders van Benjamin, Abídan, die seun van Gideóni. Sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Abídan, die seun van Gideóni. Op die tiende dag die owerste van die kinders van Dan, Ahiëser, die seun van Ammísaddai. Sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Ahiëser, die seun van Ammísaddai. Op die elfde dag die owerste van die kinders van Aser, Págiël, die seun van Ogran. Sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Págiël, die seun van Ogran. Op die twaalfde dag die owerste van die kinders van Náftali, Ahíra, die seun van Enan. Sy offer was: een silwerskottel, honderd-en-dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; een bokram as sondoffer; en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Ahíra, die seun van Enan. Dit was die inwydingsgawe van die altaar van die kant van Israel se owerstes op die dag toe dit gesalf is: twaalf silwerskottels, twaalf silwerkomme, twaalf goue rookpanne — elke skottel honderd-en-dertig sikkels silwer, en elke kom sewentig; al die silwer van die goed was twee-duisend-vierhonderd volgens die sikkel van die heiligdom — twaalf goue rookpanne, vol reukwerk; elke rookpan tien sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; al die goud van die rookpanne was honderd-en-twintig sikkels. Al die beeste vir die brandoffer was twaalf bulle; die ramme twaalf, die jaaroud lammers twaalf, met hulle spysoffer; en twaalf bokramme as sondoffer. En al die beeste vir die dankoffer was vier-en-twintig bulle; die ramme sestig, die bokramme sestig, die jaaroud lammers sestig. Dit is die inwydingsgawe van die altaar nadat dit gesalf is. En as Moses in die tent van samekoms gegaan het om met Hom te spreek, het hy die stem met hom hoor spreek van die versoendeksel af wat op die ark van die Getuienis is, tussen die twee gérubs uit. So het Hy dan met hom gespreek.
Númeri 26:5-51,57-62
Ruben, die eersgeborene van Israel; die seuns van Ruben was: van Henog die geslag van die Henogiete; van Pallu die geslag van die Palluïete; van Hesron die geslag van die Hesroniete; van Karmi die geslag van die Karmiete. Dit is die geslagte van die Rubeniete; en hulle geteldes was drieen-veertigduisend-sewehonderd-endertig. En die seuns van Pallu was: Elíab; en die seuns van Elíab was: Némuel en Datan en Abíram. Dit is Datan en Abíram wat na die vergadering opgeroep was, wat getwis het teen Moses en Aäron in die bende van Korag toe daar teen die HERE getwis is. En die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind, saam met Korag, toe die bende gesterf het deurdat die vuur die tweehonderd-en-vyftig man verteer het; en hulle het tot ’n teken geword. Maar die seuns van Korag het nie gesterf nie. Die seuns van Símeon volgens hulle geslagte: van Némuel die geslag van die Nemueliete; van Jamin die geslag van die Jaminiete; van Jagin die geslag van die Jaginiete; van Serag die geslag van die Sargiete; van Saul die geslag van die Sauliete. Dit is die geslagte van die Simeoniete, twee-en-twintigduisend-tweehonderd. Die seuns van Gad volgens hulle geslagte: van Sefon die geslag van die Sefoniete; van Haggi die geslag van die Haggiete; van Suni die geslag van die Suniete; van Osni die geslag van die Osniete; van Eri die geslag van die Eriete; van Arod die geslag van die Arodiete; van Areëli die geslag van die Areëliete. Dit is die geslagte van die seuns van Gad volgens hulle geteldes, veertigduisend-vyfhonderd. Die seuns van Juda was: Er en Onan; maar Er en Onan het gesterwe in die land Kanaän. En die seuns van Juda volgens hulle geslagte: van Sela die geslag van die Selaniete; van Peres die geslag van die Parsiete; van Serag die geslag van die Sargiete. En die seuns van Peres: van Hesron die geslag van die Hesroniete; van Hamul die geslag van die Hamuliete. Dit is die geslagte van Juda volgens hulle geteldes, ses-en-sewentigduisend-vyfhonderd. Die seuns van Íssaskar volgens hulle geslagte: van Tola die geslag van die Tolaïete; van Puwa die geslag van die Puniete; van Jasub die geslag van die Jasubiete; van Simron die geslag van die Simroniete. Dit is die geslagte van Íssaskar volgens hulle geteldes, vier-en-sestigduisend-driehonderd. Die seuns van Sébulon volgens hulle geslagte: van Sered die geslag van die Sardiete; van Elon die geslag van die Eloniete; van Jágleël die geslag van die Jagleëliete. Dit is die geslagte van die Sebuloniete volgens hulle geteldes, sestigduisend-vyfhonderd. Die seuns van Josef volgens hulle geslagte was: Manasse en Efraim. Die seuns van Manasse: van Magir die geslag van die Magiriete. En Magir was die vader van Gílead; van Gílead die geslag van die Gileadiete. Dit is die seuns van Gílead: van Jeser die geslag van die Jesriete; van Helek die geslag van die Helkiete; en van Ásriël die geslag van die Asriëliete; en van Segem die geslag van die Sigmiete; en van Semída die geslag van die Semidaïete; en van Hefer die geslag van die Hefriete. Maar Selófhad, die seun van Hefer, het geen seuns gehad nie, maar net dogters. En die name van die dogters van Selófhad was: Magla en Noa, Hogla, Milka en Tirsa. Dit is die geslagte van Manasse; en hulle geteldes was twee-en-vyftigduisend-sewehonderd. Dit is die seuns van Efraim volgens hulle geslagte: van Sutélag die geslag van die Sutalgiete; van Beger die geslag van die Bagriete; van Tahan die geslag van die Tahaniete. En dit is die seuns van Sutélag: van Eran die geslag van die Eraniete. Dit is die geslagte van die seuns van Efraim volgens hulle geteldes, twee-en-dertigduisend-vyfhonderd. Dit is die seuns van Josef volgens hulle geslagte. Die seuns van Benjamin volgens hulle geslagte: van Bela die geslag van die Baliete; van Asbel die geslag van die Asbeliete; van Ahíram die geslag van die Ahiramiete; van Sefúfam die geslag van die Sufamiete; van Hufam die geslag van die Hufamiete. En die seuns van Bela was: Ard en Naäman; van Ard die geslag van die Ardiete; van Naäman die geslag van die Naämiete. Dit is die seuns van Benjamin volgens hulle geslagte; en hulle geteldes was vyf-en-veertigduisend-seshonderd. Dit is die seuns van Dan volgens hulle geslagte: van Suham die geslag van die Suhamiete. Dit is die geslagte van Dan volgens hulle geslagte. Al die geslagte van die Suhamiete volgens hulle geteldes was vier-en-sestigduisend-vierhonderd. Die seuns van Aser volgens hulle geslagte: van Jimna die geslag van die Jimnaïete; van Jiswi die geslag van die Jiswiete; van Bería die geslag van die Beriïete; van die seuns van Bería: van Heber die geslag van die Hebriete; van Málkiël die geslag van die Malkiëliete. En die naam van die dogter van Aser was Serag. Dit is die geslagte van die seuns van Aser volgens hulle geteldes, drie-en-vyftigduisend-vierhonderd. Die seuns van Náftali volgens hulle geslagte: van Jágseël die geslag van die Jagseëliete; van Guni die geslag van die Guniete; van Jeser die geslag van die Jisriete; van Sillem die geslag van die Sillemiete. Dit is die geslagte van Náftali volgens hulle geslagte; en hulle geteldes was vyf-en-veertigduisend-vierhonderd. Dit is die geteldes van die kinders van Israel: seshonderd-en-eenduisend-sewehonderd-en-dertig. ... En dit is die geteldes van Levi volgens hulle geslagte: van Gerson die geslag van die Gersoniete; van Kehat die geslag van die Kehatiete; van Merári die geslag van die Merariete. Dit is die geslagte van Levi: die geslag van die Libniete, die geslag van die Hebroniete, die geslag van die Magliete, die geslag van die Musiete, die geslag van die Koragiete. En Kehat was die vader van Amram. En die naam van Amram se vrou was Jogébed, die dogter van Levi wat vir Levi in Egipte gebore is; en vir Amram het sy gebaar: Aäron en Moses en Mirjam, hulle suster. En vir Aäron is gebore: Nadab en Abíhu, Eleásar en Ítamar. En Nadab en Abíhu het gesterwe toe hulle vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring het. En hulle geteldes was drie-en-twingtigduisend, almal wat manlik was van ’n maand oud en daarbo. Want hulle is nie getel onder die kinders van Israel nie, omdat aan hulle geen erfdeel onder die kinders van Israel gegee is nie.
Númeri 34:14-28
Want die stam van die kinders van die Rubeniete volgens hulle families en die stam van die kinders van die Gadiete volgens hulle families en die halwe stam van Manasse het al ontvang—hulle het hul erfdeel ontvang. Die twee stamme en die halwe stam het hulle erfdeel aan die oostekant van die Jordaan van Jérigo, teen sonop, ontvang. Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Dit is die name van die manne wat vir julle die land as erfenis moet verdeel: die priester Eleásar en Josua, die seun van Nun. Daarby moet julle uit elke stam een owerste neem om die land as erfenis te verdeel. En dit is die name van die manne: van die stam van Juda—Kaleb, die seun van Jefúnne; en van die stam van Símeon se kinders—Sémuel, die seun van Ámmihud; van die stam van Benjamin—Elídad, die seun van Kislon; en van die stam van Dan se kinders as owerste—Bukki, die seun van Jogli; van die kinders van Josef: van die stam van Manasse se kinders as owerste—Hánniël, die seun van Efod; en van die stam van Efraim se kinders as owerste—Kémuel, die seun van Siftan; en van die stam van Sébulon se kinders as owerste—Elísafan, die seun van Parnag; en van die stam van Íssaskar se kinders as owerste—Páltiël, die seun van Assan; en van die stam van Aser se kinders as owerste—Ahíhud, die seun van Selómi; en van die stam van Náftali se kinders as owerste—Pedáel, die seun van Ámmihud.
Deuteronómium 33:1-29
EN dit is die seën waarmee Moses, die man van God, die kinders van Israel geseën het voor sy dood. En hy het gesê: Die HERE het gekom van Sinai en vir hulle opgegaan van Seïr af; Hy het in ligglans verskyn van die gebergte Paran en gekom van heilige tienduisende af; aan sy regterhand was vlammende vuur vir hulle. Ja, Hy het die stamme lief. Al sy heiliges—hulle is in u hand; en hulle was gelaer by u voet; elkeen ontvang iets van u uitsprake. Moses het ons die wet beveel, ’n besitting vir die vergadering van Jakob. En Hy het Koning geword in Jesúrun, toe die hoofde van die volk vergader het, die stamme van Israel almal saam. Laat Ruben lewe en nie sterwe nie, en laat sy manne ’n aantal wees. En dít vir Juda, en hy het gesê: Hoor, HERE, die stem van Juda, en bring hom na sy volk toe; met sy hande het hy geveg vir hulle, en wees U vir hom ’n hulp teenoor sy teëstanders. En van Levi het hy gesê: U Tummim en u Urim is vir die man, u gunsgenoot, wat deur U beproef is in Massa, met wie U getwis het by die waters van Mériba; wat van sy vader en sy moeder gesê het: Ek sien hom nie, en sy broers nie erken het en van sy seuns niks geweet het nie; want hulle het u woord bewaar en u verbond gehou. Hulle sal Jakob u verordeninge leer en Israel u wet; hulle sal reukwerk voor U neerlê en ’n voloffer op u altaar. Seën, HERE, sy krag, en laat die werk van sy hande U welgevallig wees; verpletter die lendene van die wat teen hom opstaan en hom haat, sodat hulle nie kan opstaan nie. Van Benjamin het hy gesê: Die beminde van die HERE—hy sal veilig by Hom woon; Hy beskerm hom die hele dag en woon tussen sy berghange. En van Josef het hy gesê: Geseënd deur die HERE is sy land met die kostelikste gawe van die hemel, met dou en met die wêreldvloed wat onder lê, en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels en met die kostelikste gawe van die aarde en van sy volheid, en die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het—laat dit kom op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die vors onder sy broers. Sy eersgebore stier—heerlikheid is syne, en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy die volke stoot, die eindes van die aarde almal saam. En dit is die tienduisende van Efraim, en dit is die duisende van Manasse! En van Sébulon het hy gesê: Verheug jou, Sébulon, oor jou togte, en Íssaskar, oor jou tente. Hulle sal volke na die berg roep; daar sal hulle offers van geregtigheid offer; want hulle sal die oorvloed van die see insuig en die verborgenste skatte van die sand. En van Gad het hy gesê: Geseënd is Hy wat vir Gad ruimte maak; hy gaan lê soos ’n leeuin en verskeur die arm, ja, die hoofskedel. En hy het vir hom ’n eerstelingsaandeel uitgekies, want daar was die deel van ’n veldheer bewaar; en hy het gekom na die hoofde van die volk, hy het die geregtigheid van die HERE uitgevoer en sy verordeninge met Israel. En van Dan het hy gesê: Dan is ’n jong leeu wat uit Basan uitspring. En van Náftali het hy gesê: Náftali, versadig van geluk en vol van die seën van die HERE—neem jy see en suidland in besit! En van Aser het hy gesê: Geseënd is Aser bo die seuns; laat hy die liefling van sy broers wees, en een wat sy voet in olie insteek. Mag jou grendel yster en koper wees, en jou sterkte soos jou dae. Niemand is daar soos God, o Jesúrun, wat oor die hemel ry as jou hulp, en oor die wolke in sy hoogheid. Die ewige God is ’n woning, en onder—ewige arms; en Hy het die vyand voor jou uit verdrywe en gesê: Verdelg! So het Israel dan veilig gaan woon, die bron van Jakob in afsondering, in ’n land van koring en mos; ja, sy hemel laat dou afdrup. Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ’n Volk wat deur die HERE verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande hulle al kruipende aan jou onderwerp; maar jý sal op hulle hoogtes stap.
Josua 13:1-21
EN toe Josua oud en ver op sy dae was, het die HERE vir hom gesê: Jy is oud en ver op jou dae, en daar het nog ’n baie groot stuk land oorgebly om in besit te neem. Dit is die land wat oorgebly het: Al die landstreke van die Filistyne en al die Gesuriete, van die Sihor aan die kant van Egipte af tot by die grens van Ekron na die noorde, wat as Kanaänities gereken word; die vyf vorste van die Filistyne: dié van Gasa en dié van Asdod, dié van Áskelon, dié van Gat en dié van Ekron, en die Awiete in die suide; die hele land van die Kanaäniete en Méara wat aan die Sidoniërs behoort, tot by Afek, tot by die grens van die Amoriete; en die land van die Gibliete en die hele Líbanon aan die oostekant, van Baäl-Gad af, onderaan die berg Hermon, tot by die ingang na Hamat. Al die bewoners van die gebergte, van die Líbanon af tot by Mísrefot-Maim, al die Sidoniërs—Ek self sal hulle voor die kinders van Israel uit verdrywe; laat dit net as erfdeel aan Israel val soos Ek jou beveel het. Verdeel dan nou hierdie land as erfdeel onder die nege stamme en die halwe stam van Manasse. Saam met hom het die Rubeniete en die Gadiete hulle erfdeel ontvang wat Moses oorkant die Jordaan na die ooste toe aan hulle gegee het, soos Moses, die kneg van die HERE, dit aan hulle gegee het: van Ároër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê, die stad in die middel van die dal, en die hele gelykveld van Médeba af tot by Dibon; en al die stede van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Hesbon geregeer het, tot by die grens van die kinders van Ammon; en Gílead en die grondgebied van die Gesuriete en Maägatiete en die hele berg Hermon en die hele Basan tot by Salka; die hele koninkryk van Og in Basan, wat koning was in Ástarot en in Edréï (hy het oorgebly uit die laastes van die Refaïete; en Moses het hulle verslaan en verdrywe). Maar die kinders van Israel het die Gesuriete en Maägatiete nie verdrywe nie, sodat Gesur en Maägat onder Israel gewoon het tot vandag toe. Net aan die stam van Levi het hy geen erfdeel gegee nie: die vuuroffers van die HERE, die God van Israel, dit is sy erfdeel, soos Hy hom beloof het. En Moses het aan die stam van die kinders van Ruben gegee volgens hulle geslagte; sodat hulle die grondgebied ontvang het: van Ároër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê, die stad in die middel van die dal, en die hele gelykveld tot by Médeba; Hesbon en al sy stede wat in die gelykveld lê, Dibon en Bamot-Baäl en Bet-Baäl-Meon en Jahas en Kedémot en Mefáät; en Kirjatáim en Sibma en Seret-Hassáhar, op die gebergte van die dal, en Bet-Peor en die hange van die Pisga en Bet-Hajésimot; en al die stede van die gelykveld en die hele koninkryk van Sihon, die koning van die Amoriete wat in Hesbon geregeer het, wat Moses verslaan het saam met die vorste van Mídian: Ewi en Rekem en Sur en Hur en Reba, die vorste van Sihon, inwoners van die land.
1 Kronieke 2:1-2
DIT is die seuns van Israel: Ruben, Símeon, Levi en Juda, Íssaskar en Sébulon, Dan, Josef en Benjamin, Náftali, Gad en Aser.
1 Kronieke 12:23-40
EN dít is die getalle van die leërafdelings van die wat vir oorlog gewapen was, wat na Dawid in Hebron gekom het om die koningskap van Saul op hom oor te bring volgens die bevel van die HERE. Die seuns van Juda wat skild en spies gedra het, was sesduisend-agthonderd, gewapend vir oorlog; van die seuns van Símeon, dapper helde vir krygsdiens, seweduisend-eenhonderd; van die seuns van Levi, vierduisend-seshonderd; en Jehójada, die bevelhebber van die Aäroniete, en saam met hom drieduisend-sewehonderd; en Sadok, ’n jongman, ’n dapper held, met sy familie: twee-en-twintig owerstes; en van die seuns van Benjamin, die broers van Saul, drieduisend: want die meeste van hulle het tot nog toe aan die huis van Saul getrou gebly; en van die seuns van Efraim, twintigduisend-agthonderd, dapper helde, manne van naam in hulle families; en van die halwe stam van Manasse agttienduisend wat met hulle naam aangewys was om Dawid koning te gaan maak; en van die seuns van Íssaskar, met kundige insig wat die tye betref, om te weet wat Israel moes doen; hulle hoofde was tweehonderd, en al hulle broers onder hulle bevel; van Sébulon wat op kommando moet uittrek, toegerus vir oorlog met allerhande krygswapens, vyftigduisend aaneengesluit, en nie met ’n dubbele hart nie; en van Náftali duisend owerstes, en saam met hulle sewen-en-dertigduisend met skild en spies; en van die Daniete, toegerus vir oorlog, agt-en-twintigduisend-seshonderd; en van Aser wat op kommando moet uittrek om hulle in slagorde op te stel, veertigduisend; en van oorkant die Jordaan af, van die Rubeniete en die Gadiete en die halwe stam van Manasse, honderd-en-twintigduisend met allerhande wapens vir krygsdiens. Al hierdie krygsmanne het, in slagorde aaneengesluit, met ’n onverdeelde hart na Hebron gekom om Dawid koning te maak oor die hele Israel; en ook al die orige Israeliete was een van hart om Dawid koning te maak. En hulle het daar saam met Dawid drie dae lank geëet en gedrink, want hulle broers het dit vir hulle berei. En selfs hulle nabestaandes tot by Íssaskar en Sébulon en Náftali het brood gebring op esels en op kamele en op muile en op beeste, meelkos, vyekoeke en rosynekoeke en wyn en olie en beeste en kleinvee in menigte, want daar was blydskap in Israel.
1 Kronieke 27:16-22
EN oor die stamme van Israel: bevelhebber oor die Rubeniete was Eliëser, die seun van Sigri; oor die Simeoniete was Safátja, die seun van Máäga; oor die Leviete was Hasábja, die seun van Kémuel; oor die Aäroniete, Sadok; oor Juda was Elíhu, uit die broers van Dawid; oor Íssaskar was Omri, die seun van Mígael; oor Sébulon was Jismája, die seun van Obádja; oor Náftali was Jérimot, die seun van Ásriël; oor die seuns van Efraim was Hoséa, die seun van Asásja; oor die halwe stam van Manasse was Joël, die seun van Pedája; oor die halwe Manasse in Gílead was Iddo, die seun van Sagaría; oor Benjamin was Jaäsiël, die seun van Abner; oor Dan was Asáreël, die seun van Jeróham. Dit was die owerstes van die stamme van Israel.
Esegiël 48:1-35
EN dit is die name van die stamme. Aan die noordekant langs die weg van Hetlon na die ingang van Hamat en Hasar-Enan aan die grens van Damaskus, na die noorde toe langs Hamat—hy moet die ooste- en die westekant hê—Dan een deel. En naas die gebied van Dan, van die oostekant af tot by die westekant: Aser een deel. En naas die gebied van Aser, van die oostekant af tot by die westekant: Náftali, een. En naas die gebied van Náftali, van die oostekant af tot by die westekant: Manasse, een. En naas die gebied van Manasse, van die oostekant af tot by die westekant: Efraim, een. En naas die gebied van Efraim, van die oostekant af tot by die westekant: Ruben, een. En naas die gebied van Ruben, van die oostekant af tot by die westekant: Juda, een. En naas die gebied van Juda, van die oostekant af tot by die westekant, moet die offergawe wees wat julle moet afgee: vyf-en-twintigduisend el breed en net so lank as een van die dele, van die oostekant af tot by die westekant; en die heiligdom moet in die middel daarvan wees. Die offergawe wat julle aan die HERE moet afgee, moet vyf-en-twintigduisend el lank wees en tienduisend breed. En aan hulle, aan die priesters, moet die heilige offergawe toebehoort: teen die noorde ’n lengte van vyf-en-twintigduisend el en teen die weste ’n breedte van tienduisend en teen die ooste ’n breedte van tienduisend en teen die suide ’n lengte van vyf-en-twintigduisend; en die heiligdom van die HERE moet in die middel daarvan wees. Dit moet wees vir die priesters wat geheilig is, die seuns van Sadok, wat my verordening onderhou het, wat nie afgedwaal het by die afdwaling van die kinders van Israel soos die Leviete afgedwaal het nie. So moet dit dan vir hulle ’n offergawe wees uit die offergawe van die land, iets hoogheiligs, op die grens van die Leviete. Verder moet die Leviete, ewewydig met die grens van die priesters, ontvang ’n lengte van vyf-en-twintigduisend el en ’n breedte van tienduisend; die hele lengte moet wees vyf-en-twintigduisend en die breedte tienduisend. En hulle mag niks daarvan verkoop of verruil nie, en die beste van die land mag nie in ander hande oorgaan nie; want dit is heilig aan die HERE. Maar die vyfduisend wat in die breedte oorgebly het, langs die vyf-en-twintigduisend—dit sal gewone land wees, bestem vir die stad as woonplek en oop veld; en die stad moet in die middel daarvan wees. En dit is die afmetinge daarvan: die noordekant, vierduisend-vyfhonderd el; en die suidekant, vierduisend-vyfhonderd; en die oostekant, vierduisend-vyfhonderd; en die westekant, vierduisend-vyfhonderd. En as oop veld moet by die stad behoort: Teen die noorde, tweehonderd-en-vyftig el; en teen die suide, tweehonderd-en-vyftig; en teen die ooste, tweehonderd-en-vyftig; en teen die weste, tweehonderd-en-vyftig. En wat oorgebly het in die lengte, ewewydig met die heilige offergawe, tienduisend teen die ooste en tienduisend teen die weste—dit moet ewewydig wees met die heilige offergawe; en die opbrings daarvan sal as onderhoud dien vir die werksmense van die stad. En wat die werksmense van die stad betref—uit al die stamme van Israel moet hulle dit bewerk. Die hele offergawe moet wees vyf-en-twintigduisend el by vyf-en-twintigduisend—vierkantig moet julle die heilige offergawe afgee saam met die stadsbesitting. En wat oorbly, behoort aan die vors, aan weerskante van die heilige offergawe en van die stadsbesitting, langs die vyf-en-twintigduisend, die offergawe, tot by die grens teen die ooste, en na die weste toe langs die vyf-en-twintigduisend tot by die grens teen die weste, net so lank as die stamgedeeltes—dit behoort aan die vors; en die heilige offergawe en die heiligdom van die huis moet in die middel daarvan wees. En van die besitting van die Leviete en die besitting van die stad af, wat in die middel lê van wat die vors s’n is, tussen die grens van Juda en die grens van Benjamin, moet alles aan die vors behoort. Verder die ander stamme. Van die oostekant af tot by die westekant: Benjamin een deel. En naas die gebied van Benjamin, van die oostekant af tot by die westekant: Símeon, een. En naas die gebied van Símeon, van die oostekant af tot by die westekant: Íssaskar, een. En naas die gebied van Íssaskar, van die oostekant af tot by die westekant: Sébulon, een. En naas die gebied van Sébulon, van die oostekant af tot by die westekant: Gad, een. En naas die gebied van Gad, aan die suidekant na die suide toe, moet die grens wees van Tamar af na die twiswaters van Kades en na die spruit van Egipte tot by die Groot See. Dit is die land wat julle as erfenis moet laat toekom aan die stamme van Israel, en dit is hulle gedeeltes, spreek die Here HERE. En dit is die uitgange van die stad: aan die noordekant vierduisend-vyfhonderd el lengtemaat. En die poorte van die stad moet wees volgens die name van die stamme van Israel; drie poorte teen die noorde: die poort van Ruben, een; die poort van Juda, een; die poort van Levi, een. En na die oostekant vierduisend-vyfhonderd el; en drie poorte, naamlik: die poort van Josef, een; die poort van Benjamin, een; die poort van Dan, een. En die suidekant vierduisend-vyfhonderd lengtemaat; en drie poorte: die poort van Símeon, een; die poort van Íssaskar, een; die poort van Sébulon, een. Die westekant vierduisend-vyfhonderd; hulle poorte drie: die poort van Gad, een; die poort van Aser, een; die poort van Náftali, een; rondom agttienduisend el; en die naam van die stad sal van vandag af wees: Die HERE is daar!
Handelinge 7:8
En Hy het hom die verbond van die besnydenis gegee, en so het hy die vader van Isak geword en hom op die agtste dag besny; en Isak het die vader van Jakob geword, en Jakob van die twaalf aartsvaders.
Openbaring 7:4-8
En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel — uit die stam van Juda twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Ruben twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Gad twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Aser twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Náftali twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Manasse twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Símeon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Levi twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Íssaskar twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Sébulon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Josef twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalfduisend verseëldes.
Openbaring 21:14
En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam.