En hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy besit was, ’n geskenk geneem vir sy broer Esau: tweehonderd bokooie en twintig bokke, tweehonderd skaapooie en twintig ramme, dertig kameelkoeie wat in die melk was, met hulle kalfies, veertig koeie en tien bulle, twintig eselinne en tien jong esels; en hy het hulle aan sy dienaars afgegee, elke trop afsonderlik, en aan sy dienaars gesê: Trek voor my uit, en laat ’n plek oop tussen trop en trop. Daarop gee hy aan die eerste een bevel en sê: As my broer Esau jou teëkom en jou vra: Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy, en wie s’n is die goed daar voor jou? dan moet jy antwoord: U dienaar Jakob s’n. Dit is ’n geskenk wat hy aan my heer Esau stuur; en kyk, hy self kom ook agter ons aan. En hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat agter die troppe geloop het, en gesê: Net so moet julle Esau antwoord as julle hom kry— julle moet sê: Kyk, ook u dienaar Jakob kom agter ons aan. Want hy het gedink: Laat ek hom versoen met die geskenk wat voor my uit gaan, en daarna sy aangesig sien—miskien sal hy my in guns aanneem.
En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het die HERE die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef; ja, die seën van die HERE was by alles wat syne was, in die huis en op die veld.
En die koning het Ester liefgekry meer as al die vroue, en sy het guns en welwillendheid voor hom gevind meer as al die jongmeisies; en hy het die koninklike kroon op haar hoof gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti.