Maar hy antwoord hom: My heer weet dat die kinders swak is, en dat ek lammerooie en melkkoeie by my het; as ’n mens hulle net een dag ooreis, dan sterf al die kleinvee.
Want Dawid het gesê: My seun Salomo is jonk en teer, en die huis wat vir die HERE gebou moet word, moet buitengewoon groot wees, tot ’n roem en ’n sieraad van al die lande; laat my dan vir hom die bou voorberei. Daarom het Dawid voor sy dood groot toebereidsels gemaak.
Ek self sal my skape oppas, en Ek self sal hulle laat lê en rus, spreek die Here HERE. Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk; maar die vettes en die sterkes sal Ek verdelg: Ek sal hulle oppas soos dit reg is. ... En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle ’n herder wees. En Ek, die HERE, Ek sal vir hulle ’n God wees, en my kneg Dawid ’n vors in hulle midde. Ek, die HERE, het dit gespreek. En Ek sal ’n verbond van vrede met hulle sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn; en hulle sal veilig bly in die woestyn en slaap in die bosse.
Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei. Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op. Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.