En Jakob het gesê: o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o HERE, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen—
En Dawid het dit baie benoud gehad, want die manskappe het gepraat om hom te stenig; want die siel van al die manskappe was verbitterd, elkeen oor sy seuns en sy dogters; maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God.
en hy sê: HERE, God van ons vaders, is Ú nie God in die hemel nie, en is Ú nie Heerser oor al die koninkryke van die nasies nie? Ja, in u hand is krag en sterkte, sodat niemand teen U kan standhou nie. ... Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.
Dalet. Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. He. Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie. Sajin. Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.
En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou.
En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee;
Dit is in my mag om julle skade aan te doen, maar die God van julle vader het verlede nag met my gespreek en gesê: Pas nou op om met Jakob geen goed of kwaad te spreek nie. ... As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie—ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het. God het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag geoordeel. ... Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak.
Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.
En die HERE het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees. ... Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My ’n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland.