Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.
En die Engel van die HERE antwoord Manóag: Al hou jy My op, Ek sal nie van jou brood eet nie; maar as jy ’n brandoffer wil berei, offer dit dan aan die HERE. Want Manóag het nie geweet dat dit die Engel van die HERE was nie. Daarop vra Manóag die Engel van die HERE: Wat is u naam, dat ons U kan vereer as u woord uitkom? En die Engel van die HERE sê vir hom: Waarom vra jy dan na my naam terwyl hy wonderbaar is?
Wie het na die hemel opgeklim en neergedaal? Wie het die wind in sy vuiste versamel? Wie het die waters in ’n kleed saamgebind? Wie het al die eindes van die aarde vasgestel? Hoe is sy Naam? En hoe is die Naam van sy Seun—as jy dit weet?
Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —
En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos. Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees ’n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën.
En mag God, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy ’n menigte van volke kan word. En mag Hy jou gee die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat God aan Abraham gegee het. ... En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.