En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.
Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. ... terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges
WANT ek wil hê dat julle moet weet wat ’n groot stryd ek oor julle het, en oor die wat in Laodicéa is en almal wat my aangesig in die vlees nie gesien het nie,
Épafras wat een van julle is, ’n dienskneg van Christus, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God.
Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs —
Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. ... Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.
die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het—mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte.
En elkeen sal wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag.
In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel. Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek. En HERE God van die leërskare, HERE is sy gedenknaam.
En Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die see het teen dagbreek in sy bedding teruggevloei, en die Egiptenaars het dit tegemoet gevlug. So het die HERE dan die Egiptenaars binne-in die see gestort.