Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan. Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en ’n maaltyd berei. Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan. En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin. En die anderdagmôre—daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg? En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie. Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring. En Jakob het so gedoen: hy het die volle bruilofsweek met haar gehou. Toe gee hy sy dogter Ragel aan hom as vrou. En Laban het aan sy dogter Ragel sy slavin Bilha gegee as slavin vir haar. En hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was by hom nóg sewe jaar in diens. En toe die HERE sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar. En Lea het bevrug geword en ’n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, die HERE het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê. En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Gewis, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem. En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem. En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek die HERE loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.
EN toe Ragel sien dat sy vir Jakob geen kinders baar nie, het Ragel jaloers geword op haar suster en aan Jakob gesê: Gee vir my kinders of anders sterf ek. Toe het Jakob kwaad geword vir Ragel en gevra: Is ek dan in die plek van God wat die vrug van die skoot aan jou onthou het? En sy antwoord: Daar is my slavin Bilha; gaan by haar in, dat sy op my knieë kan baar en ek ook uit haar gebou kan word. Daarop het sy aan hom haar slavin Bilha as vrou gegee, en Jakob het by haar ingegaan. En Bilha het swanger geword en vir Jakob ’n seun gebaar. Toe sê Ragel: God het aan my reg verskaf en my ook verhoor en my ’n seun gegee. Daarom het sy hom Dan genoem. En Bilha, die slavin van Ragel, het weer bevrug geword en vir Jakob ’n tweede seun gebaar. Toe sê Ragel: Ek het bomenslike worstelinge met my suster geworstel en ook oorwin. En sy het hom Náftali genoem. En toe Lea sien dat sy opgehou het met baar, neem sy haar slavin Silpa en gee haar aan Jakob as vrou. En Silpa, die slavin van Lea, het vir Jakob ’n seun gebaar. Toe sê Lea: Gelukkig! En sy het hom Gad genoem. Daarna het Silpa, die slavin van Lea, vir Jakob ’n tweede seun gebaar. Toe sê Lea: Ek, gelukkige! want die dogters sal my gelukkig prys. En sy het hom Aser genoem. En Ruben het in die dae van die koringoes gegaan en in die veld liefdesappels gevind en dié na sy moeder Lea gebring. Toe sê Ragel vir Lea: Gee my tog van jou seun se liefdesappels. Maar sy antwoord haar: Is dit nie genoeg dat jy my man geneem het nie, dat jy ook my seun se liefdesappels wil neem? En Ragel sê: Daarom mag hy vir jou seun se liefdesappels vannag by jou slaap. Toe Jakob dan die aand uit die veld kom, gaan Lea hom tegemoet met die woorde: Jy moet na mý kom, want ek het jou eerlik gehuur vir my seun se liefdesappels. En hy het dié nag by haar geslaap. En God het Lea verhoor: sy het bevrug geword en vir Jakob ’n vyfde seun gebaar. Toe sê Lea: God het my loon gegee, omdat ek my slavin aan my man gegee het. En sy het hom Íssaskar genoem. En Lea het weer bevrug geword en vir Jakob ’n sesde seun gebaar. Toe sê Lea: God het my ’n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar. En sy het hom Sébulon genoem. En daarna het sy ’n dogter gebaar en haar Dina genoem. En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen: sy het bevrug geword en ’n seun gebaar. Toe sê sy: God het my smaad weggeneem. En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag die HERE vir my ’n ander seun daar byvoeg!
En toe haar siel uitgaan—want sy het gesterwe—noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem. ... En terwyl Israel in dié land woon, het Ruben gegaan en met Bilha, sy vader se byvrou, gemeenskap gehad. En Israel het dit gehoor. En die seuns van Jakob was twaalf. Die seuns van Lea was: Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna Símeon en Levi en Juda en Íssaskar en Sébulon. Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin. En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Náftali. En die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.
Net naby die land van die kinders van Ammon het jy nie gekom nie: die hele kant van die Jabbokrivier en die stede van die gebergte en alles wat die HERE onse God verbied het.
Maar aan die Rubeniete en die Gadiete het ek van Gílead af tot by die Arnonrivier gegee, die middel van die rivier, saam met sy oewerland, en tot by die Jabbokrivier, die grens van die kinders van Ammon.
Sihon, die koning van die Amoriete wat in Hesbon gewoon het, wat geheers het van Ároër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê: van die middel van die rivier af en oor die helfte van Gílead tot by die Jabbokrivier, die grens van die kinders van Ammon;