Kruisverwysings → Genesis 31:53

Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak.

God van Abraham

Genesis 11:24-29,31
Toe Nahor negen-en-twintig jaar oud was, het hy die vader van Tera geword. En Nahor het ná die geboorte van Tera nog honderd-en-negentien jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran. En dit is die stamboom van Tera: Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran van Lot. En Haran het gesterwe terwyl sy vader Tera nog geleef het, in sy geboorteland, in Ur van die Chaldeërs. En Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka, die dogter van Haran, die vader van Milka en die vader van Jiska. ... En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. En hulle het tot by Haran gekom en daar gaan woon.
Genesis 17:7
En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou.
Genesis 22:20-24
Ná hierdie dinge het hulle aan Abraham berig gebring en gesê: Kyk, Milka het ook vir jou broer Nahor seuns gebaar: Us, sy eersgeborene, en Bus, sy broer, en Kémuel, die vader van Aram, ook Kesed en Haso en Pildas en Jidlaf en Bétuel. (En Bétuel was die vader van Rebekka.) Hierdie agt het Milka vir Nahor, die broer van Abraham, gebaar. En sy byvrou met die naam van Reüma, sy het ook Tebag en Gaham en Tahas en Máäga gebaar.
Genesis 24:3-4
dat ek jou kan laat sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie; maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak ’n vrou te neem.
Eksodus 3:6
Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.
Josua 24:2
Toe sê Josua aan die hele volk: So sê die HERE, die God van Israel: Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon—Tera, die vader van Abraham en die vader van Nahor, en hulle het ander gode gedien.

regter

Genesis 16:5
En Sarai sê vir Abram: Die onreg my aangedoen, is op jou! Ek self het my slavin in jou skoot gegee, en nou dat sy sien dat sy swanger is, het ek veragtelik in haar oë geword. Laat die HERE oordeel tussen my en jou.

gesweer

Genesis 14:22
Toe antwoord Abram die koning van Sodom: Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde,
Genesis 21:23-24
Sweer dan nou vir my hier by God dat jy met my en my kroos en my nageslag nie vals sal handel nie; dieselfde guns wat ek jou bewys het, moet jy aan my bewys en aan die land waarin jy as vreemdeling vertoef. En Abraham antwoord: Ek sweer.
Genesis 24:3
dat ek jou kan laat sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie;
Genesis 26:28-31
Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is. Daarom het ons gedink: Laat daar tog ’n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat ons ’n verbond met jou sluit: jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal die geseënde van die HERE. Toe berei hy vir hulle ’n maaltyd, en hulle het geëet en gedrink. En hulle is die môre vroeg op en het vir mekaar ’n eed gesweer. Daarop het Isak hulle laat gaan, en hulle het in vrede van hom af weggetrek.

Vrees

Genesis 31:42
As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie—ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het. God het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag geoordeel.
Deuteronómium 6:13
Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.