En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy gesê: Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter. Toe antwoord Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan ’n ander man gee. Bly by my. So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos ’n paar dae, omdat hy haar liefgehad het. Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan. Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en ’n maaltyd berei. Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan. En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin. En die anderdagmôre—daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg? En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie. Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring. En Jakob het so gedoen: hy het die volle bruilofsweek met haar gehou. Toe gee hy sy dogter Ragel aan hom as vrou. En Laban het aan sy dogter Ragel sy slavin Bilha gegee as slavin vir haar. En hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was by hom nóg sewe jaar in diens.
En my regverdigheid sal later vír my getuig: as u kom om my loon na te gaan, sal alles wat nie gestippel of bont is onder die bokke, en wat nie swart is onder die skaaplammers nie, gesteelde goed by my wees. Toe antwoord Laban: Goed, laat dit wees volgens jou woord! En hy het dieselfde dag uitgekeer die gestreepte en bont bokke en al die gestippelde en bont bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en almal wat swart was onder die skaaplammers, en dié aan sy seuns afgegee. En hy het ’n afstand van drie dae bepaal tussen hom en Jakob; en Jakob het die orige kleinvee van Laban opgepas. Toe neem Jakob vir hom groen latte van populier-, amandel- en plataanhout, en hy skil daarin wit strepe, sodat die wit van die latte uitkom; en hy sit die latte wat hy geskil het, vlak voor die vee in die trogge, in die drinkbakke waar die vee kom drink het; en hulle het verhit geword as hulle kom drink. En die vee het verhit geword by die latte, en die vee het gelam gestreeptes, gestippeldes en bontes. Toe skei Jakob die lammers, en hy draai die koppe van die vee na die gestreeptes en almal wat swart was onder Laban se vee. En hy het vir hom afsonderlike troppe gemaak en dié nie onder Laban se vee gesit nie.
Maar deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is.
dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders;