Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers—hy was nog jonk—met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring. ... Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.
EN Josef is afgebring na Egipte; en Pótifar, ’n hofdienaar van Farao, die owerste van die lyfwag, ’n Egiptiese man, het hom gekoop uit die hand van die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het. En die HERE was met Josef, sodat hy ’n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly. En toe sy heer sien dat die HERE met hom was, en dat die HERE alles wat hy doen, in sy hand voorspoedig maak, het Josef guns in sy oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee. En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het die HERE die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef; ja, die seën van die HERE was by alles wat syne was, in die huis en op die veld. En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien. Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee. Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie. Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop. Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het, roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle: Kyk, hy het vir ons ’n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu; en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en na buite geloop. En sy het sy kleed by haar neergelê totdat sy heer tuisgekom het. En sy het hom met dieselfde woorde aangespreek en gesê: Die Hebreeuse kneg wat jy vir ons hier gebring het, het na my gekom om met my gek te skeer; en toe ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en na buite gevlug. Toe sy heer die woorde hoor waarmee sy vrou hom aanspreek: So en so het jou kneg aan my gedoen—het hy baie kwaad geword; en die heer van Josef het hom laat vang en hom in die gevangenis gesit op die plek waar die gevangenes van die koning opgesluit was; en hy was daar in die gevangenis. Maar die HERE was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis. En die owerste van die gevangenis het almal wat in die gevangenis opgesluit was, aan Josef toevertrou; en alles wat daar te doen was, het hý gedoen. Die owerste van die gevangenis het glad nie na iets omgekyk wat aan hom toevertrou was nie, omdat die HERE met hom was; en wat hy doen, het die HERE voorspoedig laat wees.
En Josef was die maghebber oor die land, hy wat aan al die mense van die land koring verkoop het; daarom het die broers van Josef gekom en hulle voor hom met die aangesig na die aarde gebuig.
NÁ hierdie dinge het hulle aan Josef meegedeel: Kyk, u vader is siek. Toe neem hy sy twee seuns, Manasse en Efraim, met hom saam. En hulle het aan Jakob berig gebring en gesê: Kyk, u seun Josef kom na u toe. Daarop het Jakob sy krag versamel en op die bed gaan sit. En Jakob het vir Josef gesê: God, die Almagtige, het aan my verskyn by Lus, in die land Kanaän, en my geseën en vir my gesê: Kyk, Ek sal jou vrugbaar maak en jou vermeerder en jou tot ’n menigte van volke maak, en Ek sal aan jou nageslag ná jou hierdie land as ewige besitting gee. Nou dan, jou twee seuns wat vir jou in Egipteland gebore is voordat ek in Egipte na jou gekom het, is myne. Efraim en Manasse sal myne wees net soos Ruben en Símeon. Maar jou nakomelinge wat jy ná hulle verwek het, sal joue wees. Hulle sal na die naam van hulle broers genoem word in dié se erfdeel. En toe ek van Paddan gekom het, het Ragel by my gesterwe in die land Kanaän, op die reis toe daar nog ’n kort ent pad was om by Efrat te kom; en ek het haar daar begrawe langs die pad na Efrat, dit is Betlehem. Toe Israel die seuns van Josef sien, sê hy: Wie is dit? En Josef antwoord sy vader: Dit is my seuns wat God my hier gegee het. En hy sê: Bring hulle tog by my, dat ek hulle kan seën. Maar Israel se oë was swaar van ouderdom, hy kon nie sien nie. En toe hy hulle by hom bring, het hy hulle gesoen en hulle omhels. En Israel sê vir Josef: Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien. Daarop laat Josef hulle van sy knieë af weggaan, en hy buig hom met sy aangesig na die aarde toe. En Josef neem hulle twee, Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel, en hy bring hulle by hom. Toe steek Israel sy regterhand uit en lê dit op die hoof van Efraim, hoewel hy die jongste was, en sy linkerhand op die hoof van Manasse: hy het sy hande oorkruis gehou, want Manasse was die eersgeborene. En hy het Josef geseën en gesê: Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe, die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het—mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte. Toe Josef sien dat sy vader sy regterhand op die hoof van Efraim gelê het, was dit verkeerd in sy oë; en hy het die hand van sy vader gegryp om dit van die hoof van Efraim op die hoof van Manasse oor te bring. En Josef sê aan sy vader: Nie so nie, my vader; want hierdie een is die eersgeborene: lê u regterhand op sy hoof. Maar sy vader weier en sê: Ek weet, my seun, ek weet. Hy sal ook ’n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer groter wees as hy, en sý nageslag sal ’n menigte van nasies word. So het hy hulle dan dié dag geseën en gesê: Met jou sal Israel ’n seën toewens, met die woorde: Mag God jou maak soos Efraim en soos Manasse! So het hy dan Efraim voor Manasse gestel. Daarop sê Israel vir Josef: Kyk, ek gaan sterwe, maar God sal met julle wees, en Hy sal julle terug laat gaan na die land van julle vaders. En ék gee jou een stuk land bo jou broers, wat ek met my swaard en my boog van die Amoriete afgeneem het.
Josef is ’n jong vrugteboom, ’n jong vrugteboom by ’n fontein; sy takke klim oor die muur. Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry, maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob—daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is, van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers.
En van Josef het hy gesê: Geseënd deur die HERE is sy land met die kostelikste gawe van die hemel, met dou en met die wêreldvloed wat onder lê, en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels en met die kostelikste gawe van die aarde en van sy volheid, en die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het—laat dit kom op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die vors onder sy broers. Sy eersgebore stier—heerlikheid is syne, en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy die volke stoot, die eindes van die aarde almal saam. En dit is die tienduisende van Efraim, en dit is die duisende van Manasse!
En jy, mensekind, neem vir jou ’n stuk hout, en skrywe daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote; en neem ’n ander stuk hout en skrywe daarop: Vir Josef (die hout van Efraim) en die hele huis van Israel, sy bondgenote.
En die aartsvaders was jaloers op Josef en het hom verkoop na Egipte toe; maar God was met hom en het hom uit al sy verdrukkinge verlos en hom guns en wysheid geskenk voor Farao, die koning van Egipte; en dié het hom goewerneur gemaak oor Egipte en oor sy hele huis. En ’n hongersnood en groot benoudheid het oor die hele Egipteland en Kanaän gekom, en ons vaders kon geen voedsel kry nie. En toe Jakob hoor dat daar koring in Egipte was, het hy ons vaders die eerste keer uitgestuur. En die tweede keer is Josef deur sy broers herken, en die afkoms van Josef het aan Farao bekend geword. Toe het Josef gestuur en sy vader Jakob laat roep en sy hele familie, vyf-en-sewentig siele. En Jakob het afgetrek na Egipte en daar gesterwe, hy en ons vaders.
Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf. Deur die geloof het Josef aan die einde van sy lewe melding gemaak van die uittog van die kinders van Israel en bevel gegee aangaande sy gebeente.
uit die stam van Sébulon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Josef twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalfduisend verseëldes.
En terwyl sy dit swaar het by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: Wees nie bevrees nie, want dit is ook ’n seun vir u. En toe haar siel uitgaan—want sy het gesterwe—noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem.