So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.
Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ’n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. ... En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte moet na mekaar toe wees; die gesigte van die gérubs moet op die versoendeksel gerig wees. ... En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel.
Daarop het die manskappe na Silo gestuur, en hulle het die verbondsark van die HERE van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan gaan haal; en die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, was daar by die verbondsark van God.
En tien el die tweede gérub: altwee die gérubs het een maat en een gestalte gehad. Die hoogte van die een gérub was tien el, en net so die ander gérub. Toe het hy die gérubs in die middel van die binneste vertrek gesit, en die vlerke van die gérubs was uitgesprei, sodat die vlerk van die een aan die een muur en die vlerk van die ander gérub aan die ander muur raak, terwyl hulle vlerke, na die middel van die vertrek toe, vlerk teen vlerk raak. Verder het hy die gérubs met goud oorgetrek. En aan al die mure van die huis rondom, van die binneste en die buitenste vertrek, het hy figure van gérubs en palmbome en oop blomknoppe laat uitsny. En die vloer van die huis, van die binneste en die buitenste vertrek, het hy met goud oorgetrek. En as ingang van die binneste vertrek het hy deure van oliewenhout gemaak; die uitspringende raamwerk van die deurposte het die vorm van ’n vyfhoek gehad. En die twee deurvleuels was van oliewenhout, en daarop het hy figure van gérubs en palmbome en oop blomknoppe laat uitsny en dit met goud oorgetrek, en die goud op die gérubs en op die palmbome ingeslaan. En net so het hy vir die ingang van die hoofvertrek gemaak: deurposte van oliewenhout, vierkantig; en twee deurvleuels van sipreshout: die een vleuel van twee draaibare helftes en die ander vleuel van twee draaibare helftes. En hy het daarop gérubs en palmbome en oop blomknoppe uitgesny, en met goud, dun oor die snywerk uitgeslaan, oorgetrek.
VIR die musiekleier; op die wysie van: „Lelies.” ’n Getuienis. Van Asaf. ’n Psalm. o Herder van Israel, hoor tog; U wat Josef soos skape lei, wat bo-oor die gérubs troon, verskyn in ligglans!
En Hy het die man aangespreek wat met linne bekleed was, en gesê: Gaan in tussen die ratwerk onder die gérub in, en vul jou twee hande met gloeiende kole tussen die gérubs vandaan, en strooi dit oor die stad. Toe gaan hy voor my oë daar in. En die gérubs het aan die regterkant van die huis gestaan toe die man daar ingaan, en die wolk het die binneste voorhof gevul. Toe het die heerlikheid van die HERE van die gérub af opgestyg oor die drumpel van die huis; en die huis is gevul met die wolk, en die voorhof was vol van die glans van die HERE se heerlikheid. En die geruis van die gérubs se vlerke is gehoor tot in die buitenste voorhof, soos die stem van die almagtige God as Hy spreek. En toe Hy aan die man wat met linne bekleed was, bevel gegee het deur te sê: Neem vuur tussen die ratwerk, tussen die gérubs uit, het hy ingegaan en langs die wiel gaan staan. Toe steek die gérub sy hand uit, tussen die gérubs uit, na die vuur wat tussen die gérubs was; en hy neem daarvan en gee dit in die twee hande van hom wat met linne bekleed was; dié het dit geneem en uitgegaan. En daar is aan die gérubs gesien die vorm van ’n mens se hand onder hulle vlerke. Toe het ek gekyk—en daar was vier wiele langs die gérubs, telkens een wiel langs elke gérub; en die voorkoms van die wiele was soos dié van chrisoliet. En aangaande hulle voorkoms, al vier het dieselfde voorkoms gehad, asof daar ’n wiel binne-in ’n wiel was: as hulle gaan, het hulle na al vier kante gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie; maar daar waar die voorste heen draai, het hulle agter hom aan gegaan; hulle het nie gedraai as hulle gaan nie. En hulle hele liggaam en hulle rugge en hulle hande en hulle vlerke en die wiele was vol oë rondom, aan al die vier wiele van hulle. Aangaande die wiele, hulle is voor my ore die ratwerk genoem. En elkeen het vier aangesigte gehad: die eerste aangesig was die aangesig van ’n gérub en die tweede aangesig die aangesig van ’n mens en die derde die aangesig van ’n leeu en die vierde die aangesig van ’n arend. En die gérubs het opgestyg. Dit was die wese wat ek by die Kebarrivier gesien het. En as die gérubs gaan, gaan die wiele naasaan hulle; en as die gérubs hulle vlerke ophef om van die grond af op te styg, het die wiele ook nie weggedraai naasaan hulle nie. As dié bly staan, staan hulle; en as dié opstyg, het hulle saam opgestyg; want die gees van die wese was in hulle. En die heerlikheid van die HERE het van die drumpel van die huis af weggetrek en bo die gérubs gaan staan. En die gérubs het hulle vlerke opgehef en voor my oë van die grond af opgestyg toe hulle weggetrek het, en die wiele gelyktydig met hulle saam; en hulle het gaan staan by die ingang van die Oostelike Poort van die huis van die HERE, terwyl die heerlikheid van die God van Israel bo-oor hulle was. Dit is die wese wat ek onder die God van Israel by die Kebarrivier gesien het; ek merk toe dat dit gérubs was. Elkeen het vier aangesigte en elkeen vier vlerke gehad; en iets in die vorm van mensehande was onder hulle vlerke. En wat die vorm van hulle aangesigte betref, dit was die aangesigte wat ek by die Kebarrivier gesien het, hulle voorkoms en hulle self; hulle het elkeen reguit vorentoe gegaan.
En die esel het die Engel van die HERE in die pad sien staan, met sy ontblote swaard in sy hand; daarom het die esel uit die pad uitgedraai en die veld ingeloop. Maar Bíleam het die esel geslaan om haar na die pad te stuur.
En terwyl Josua by Jérigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan ’n man teenoor hom met ’n ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort U by ons of by ons vyande?
Toe Dawid sy oë opslaan, sien hy die engel van die HERE staan tussen die aarde en die hemel met sy ontblote swaard in sy hand oor Jerusalem uitgestrek. Daarop val Dawid en die oudstes, met rouklere bedek, op hulle aangesig. En Dawid sê tot God: Is dit nie ék wat beveel het om die volk te tel nie? Ja, dit is ek wat gesondig en baie verkeerd gehandel het; maar hierdie skape, wat het hulle gedoen? HERE, my God, laat u hand tog teen my en my familie wees, maar nie as ’n plaag teen u volk nie.
Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie. TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ’n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.