Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe. En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.
En al steek hulle hul weg op die top van Karmel, Ek sal hulle daar opspoor en weghaal; en al verberg hulle hul voor my oë op die bodem van die see, Ek sal van daar die slang ontbied om hulle te byt.
slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.
En Paulus het ’n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en ’n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt. En toe die inboorlinge die dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: Hierdie man is beslis ’n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered. Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie. En hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval; maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy ’n god was.
Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?
Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan.
Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?
Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. ... Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.
Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. ... en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem.
En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word. ... En jy, kindjie, sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak;
Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het — dit is die duiwel — en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.
Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.
En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. ... En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.
EN ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word. ... En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.
Hy was verag en deur die mense verlaat, ’n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ’n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. ... Daarom sal Ek Hom ’n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.
En ná die twee-en-sestig sewetalle sal ’n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ’n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ’n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.
TOE is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel. En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword. En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word. Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie. Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie. Weer neem die duiwel Hom saam na ’n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
EN Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy dissipels het Hom gevolg. En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking kom nie. En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi, en neergekniel en gebid en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En ’n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in ’n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val. ... Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie die hande teen My uitgesteek nie. Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.
Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek. En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.
Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie. Maar dat die wêreld kan weet dat Ek die Vader liefhet en doen net soos die Vader My beveel het — staan op, laat ons hiervandaan weggaan.
Hy wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs —
Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.
En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek ’n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het. En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het;
EN ek het ’n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik: sewe engele met die sewe laaste plae, want daarmee is die grimmigheid van God voleindig. En ek het gesien iets soos ’n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God. En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges! Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het. En ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, die tempel van die tent van die getuienis in die hemel is geopen. En die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel uitgekom, bekleed met rein, blink linne, en om die bors omgord met goue gordels.
EN wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.