En sy het weer bevrug geword en ’n seun gebaar en gesê: Gewis, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem.
Maar op die derde dag, toe hulle in die pyn was, neem die twee seuns van Jakob, Símeon en Levi, broers van Dina, elkeen sy swaard, en hulle oorval die sorgelose stad en slaan almal dood wat manlik was. ... Toe sê Jakob vir Símeon en Levi: Julle het my ontroer dat julle my gehaat gemaak het by die inwoners van die land, die Kanaäniete en Feresiete, terwyl ek ’n klein klompie is. As hulle hul teen my versamel, sal hulle my verslaan, en ek sal verdelg word, ek en my huis.
Toe draai hy hom van hulle af weg en ween. Daarna het hy na hulle teruggegaan en met hulle gespreek; en hy het Símeon onder hulle uitgeneem en hom voor hulle oë gebind.
Símeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld. Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink.