TOE Abram negen-en-negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees. En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder. Toe val Abram op sy aangesig, en God het met hom gespreek en gesê: Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ’n menigte van nasies word. Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ’n vader van ’n menigte van nasies. En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom.
dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.
Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ’n Nasie, ja, ’n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom.
En mag God, die Almagtige, julle barmhartigheid verleen by die man, sodat hy julle ander broer en Benjamin saam met julle kan laat trek! En ek—as ek van kinders beroof is, dan is ek beroof.
’N BEDEVAARTSLIED. Van Salomo. As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.
En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
En hulle het Rebekka geseën en aan haar gesê: Ons suster, mag jy duisende van tienduisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!
Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in die hand van ’n held, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het! Hulle sal nie beskaamd staan as hulle met die vyande in die poort spreek nie.
’N BEDEVAARTSLIED. Welgeluksalig is elkeen wat die HERE vrees, wat in sy weë wandel! Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; gelukkig is jy, en dit gaan met jou goed! Jou vrou is soos ’n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat die HERE vrees. Mag die HERE jou seën uit Sion, dat jy die voorspoed van Jerusalem mag aanskou al die dae van jou lewe! En dat jy jou kindskinders mag aanskou! Vrede oor Israel!