En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ’n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.
En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste- en Ai aan die oostekant, en daar vir die HERE ’n altaar gebou en die Naam van die HERE aangeroep.
DAARNA het God vir Jakob gesê: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar ’n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was vir jou broer Esau. ... En Jakob het die plek waar God met hom gespreek het, Bet-el genoem.
Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die HERE; dit is heilig aan die HERE. Maar as iemand van sy tiende iets wil los, moet hy die vyfde deel daarvan byvoeg. Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee—alles wat onder die herderstaf deurgaan—die tiende moet aan die HERE heilig wees. Hulle mag nie ondersoek of dit goed of sleg is nie, en dit nie omruil nie; maar as hulle dit tog omruil, moet dit en die geruilde heilig wees; dit mag nie gelos word nie.
JY moet noukeurig die hele opbrings van jou saad—wat jaar vir jaar uit die land uitspruit—vertien. En jy moet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat jy kan leer om die HERE jou God altyd te vrees.