En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ’n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.
Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.
Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand. En hulle het gevrees.
En toe ek Hom sien, val ek soos ’n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste
DAARNA het God vir Jakob gesê: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar ’n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was vir jou broer Esau. Toe sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan; en laat ons klaarmaak en optrek na Bet-el; en ek sal daar ’n altaar bou vir die God wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die weg wat ek gegaan het. Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is. En toe hulle weggetrek het, kom daar ’n skrik van God op die stede rondom hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie. So het Jakob dan in Lus aangekom wat in die land Kanaän is—dit is Bet-el—hy en al die mense wat by hom was, en hy het daar ’n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar aan hom geopenbaar is toe hy vir sy broer gevlug het. En Debora, die oppasser van Rebekka, het gesterwe, en sy is begrawe onderkant Bet-el, onder die eikeboom. En hulle het dit genoem: Eik van geween. Toe verskyn God weer aan Jakob, by sy terugkoms uit Paddan-Aram, en Hy seën hom; en God sê vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem. Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ’n Nasie, ja, ’n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom. En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee. Toe het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gespreek het.
Gee ag op jou voet as jy na die huis van God gaan, want om nader te kom en te hoor, is beter as dat dwase ’n slagoffer bring; want hulle het geen verstand nie, sodat hulle kwaad doen.
Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ’n pilaar en grondslag van die waarheid.
Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?