En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.
En Jakob het ’n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees.
En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.
En Jakob het gesê: o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o HERE, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen—
En die HERE was met Josef, sodat hy ’n voorspoedige man was; en hy het in die huis van sy heer, die Egiptenaar, gebly. ... Maar die HERE was met Josef, en Hy het goedertierenheid aan hom bewys en hom guns verleen in die oë van die owerste van die gevangenis.
En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ’n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.
Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons. Sela. ... Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons. Sela.
Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
WAT sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.
die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het—mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte.
Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.
So het Jakob dan in Lus aangekom wat in die land Kanaän is—dit is Bet-el—hy en al die mense wat by hom was, en hy het daar ’n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar aan hom geopenbaar is toe hy vir sy broer gevlug het.
Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.
Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.
En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.
Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ’n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?
God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?
En kyk, ek gaan vandag die weg van die ganse aarde, maar julle moet erken met jul hele hart en met jul hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, onvervuld gebly het nie; alles het vir julle uitgekom, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie. Maar soos al die goeie woorde oor julle gekom het wat die HERE julle God oor julle gespreek het, so sal die HERE oor julle al die onheilswoorde laat kom, totdat Hy julle verdelg het uit hierdie goeie land wat die HERE julle God aan julle gegee het. As julle die verbond van die HERE julle God wat Hy julle beveel het, oortree en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal die toorn van die HERE teen julle ontvlam, en julle sal gou omkom uit die goeie land wat Hy aan julle gegee het.