En hy het gedroom—daar is ’n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het.
NÁ hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ’n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ’n skild en jou loon is baie groot. ... En toe die son wou ondergaan, val daar ’n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.
Maar God het in die nag by Abiméleg gekom in ’n droom en vir hom gesê: Kyk, jy sal sterwe ter wille van die vrou wat jy laat haal het, want sy is ’n getroude vrou. ... Daarop antwoord God hom in die droom: Ek weet ook dat jy dit in die onskuld van jou hart gedoen het, en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie. Gee dan nou die man se vrou terug, want hy is ’n profeet; en hy sal vir jou bid, dat jy kan lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik sal sterwe, jy en almal wat aan jou behoort.
Ook het Josef ’n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat. Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop blý staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig. Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde. Daarna het hy nog ’n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog ’n droom gehad—die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir ’n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig? En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.
NÁ hierdie dinge het die skinker van die koning van Egipte en die bakker hulle misgaan jeens hulle heer, die koning van Egipte, sodat Farao baie kwaad geword het vir sy twee hofdienaars, die voorman van die skinkers en die voorman van die bakkers. En hy het hulle in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, in die gevangenis, die plek waar Josef gevange was. En die owerste van die lyfwag het Josef by hulle aangestel om hulle te bedien. En hulle was ’n tyd lank in bewaring. En hulle het altwee ’n droom gehad, elkeen sy droom, in dieselfde nag, elkeen ’n droom met besondere betekenis, die skinker en die bakker van die koning van Egipte, wat in die gevangenis gevange gesit het. En Josef het die volgende môre by hulle gekom en gesien dat hulle ontstemd was. Toe vra hy die hofdienaars van Farao wat by hom in bewaring was in die huis van sy heer, en sê: Waarom lyk julle aangesig vandag so droewig? En hulle antwoord hom: Ons het ’n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie. En Josef vra hulle: Is uitlegging nie ’n saak van God nie? Vertel my tog. Toe vertel die voorman van die skinkers aan Josef sy droom en sê vir hom: In my droom was daar ’n wingerdstok voor my, en aan die wingerdstok was drie ranke; en skaars het hy gebot of sy bloeisel was uit, sy trosse het ryp druiwe geword. En die beker van Farao was in my hand. En ek het die druiwe geneem en dit in die beker van Farao uitgedruk en die beker in die hand van Farao gegee. Toe sê Josef vir hom: Dit is die uitlegging daarvan: die drie ranke is drie dae. Binne drie dae sal Farao jou hoof verhef—jou in jou rang herstel; en jy sal die beker van Farao in sy hand gee net soos vroeër toe jy sy skinker was. Hou my tog net in gedagte as dit met jou goed gaan, en bewys my tog ’n guns en maak melding van my by Farao en bring my uit hierdie huis uit; want ek is gesteel, ja gesteel, uit die land van die Hebreërs, en ek het hier ook niks gedoen dat hulle my in die gevangenis gesit het nie. Toe die voorman van die bakkers sien dat hy ’n gunstige uitlegging gegee het, sê hy aan Josef: Ook in mý droom—toe was daar drie mandjies met witbrood op my hoof, en in die boonste mandjie was allerhande eetware vir Farao deur bakkers klaargemaak, en die voëls het dit uit die mandjie bo-op my hoof weggepik. Toe antwoord Josef en sê: Dit is die uitlegging daarvan—die drie mandjies is drie dae. Binne drie dae sal Farao jou hoof bo-oor jou verhef—hy sal jou aan ’n paal ophang, en die voëls sal jou vlees van jou af wegpik. En op die derde dag, die verjaarsdag van Farao, het hy ’n maaltyd vir al sy dienaars berei en die hoof van die voorman van die skinkers en die hoof van die voorman van die bakkers te midde van sy dienaars verhef— hy het die voorman van die skinkers herstel in sy skinkersamp, sodat hy die beker in die hand van Farao kon gee, maar die voorman van die bakkers het hy opgehang—soos Josef dit aan hulle uitgelê het. En die voorman van die skinkers het nie aan Josef gedink nie, maar hom vergeet.
VERDER is ’n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het ’n gefluister daarvan opgevang, by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val. Skrik het oor my gekom en siddering en het my hele gebeente laat bewe. Toe skuif daar ’n gees voor my verby; die hare van my vlees het opgerys. Hy bly staan, maar ek kon sy gedaante nie herken nie—’n verskyning voor my oë! Ek hoor die gefluister van ’n stem wat sê: Sou ’n sterfling regverdig wees voor God? Of ’n man rein wees voor sy Maker? Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling. Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ’n mot. Tussen môre en aand word hulle verpletter; hulle kom vir ewig om sonder dat iemand daar ag op gee. Word hulle tentlyn nie losgeruk in hulle nie? Hulle sterwe, en dit sonder wysheid.
In die droom, in ’n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle;
EN in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar, het Nebukadnésar ’n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was. Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê. Toe hulle kom en voor die koning gaan staan, sê die koning vir hulle: Ek het ’n droom gehad, en my gees is onrustig om die droom te verstaan. Toe het die Chaldeërs met die koning gespreek (Aramees): Mag die koning vir altyd lewe! Vertel u dienaars die droom, en ons sal die uitlegging te kenne gee. Die koning het geantwoord en aan die Chaldeërs gesê: Die saak staan by my vas: as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word. Maar as julle die droom en sy uitlegging te kenne gee, sal julle geskenke en gawes en groot eer van my ontvang; gee my daarom die droom en sy uitlegging te kenne. Hulle het vir die tweede maal geantwoord en gesê: Laat die koning die droom aan sy dienaars vertel; dan sal ons die uitlegging te kenne gee. Die koning het geantwoord en gesê: Ek weet verseker dat julle tyd wil win, omdat julle sien dat die saak by my vasstaan; want as julle my die droom nie bekend maak nie, is julle vonnis een en dieselfde; julle het naamlik afgespreek om ’n leuenagtige en bedrieglike woord voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan sal ek weet of julle my sy uitlegging kan te kenne gee. Die Chaldeërs het voor die koning geantwoord en gesê: Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeër verlang nie. Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie. Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring. Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word. Daarop het Daniël aan Áriog, die owerste van die koninklike lyfwag wat uitgetrek het om die wyse manne van Babel dood te maak, ’n slim en verstandige antwoord gegee. Hy antwoord en sê vir Áriog, die bevelhebber van die koning: Waarom is die bevel van die kant van die koning so streng? Toe het Áriog aan Daniël die saak meegedeel. Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee. Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend, en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie. Daarop is in ’n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die God van die hemel geloof. Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom. U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak. Daarom het Daniël ingegaan na Áriog, wat die koning aangestel het om die wyse manne van Babel om te bring; hy het gegaan en vir hom só gesê: Moenie die wyse manne van Babel ombring nie; bring my in voor die koning, dan sal ek aan die koning die uitlegging te kenne gee. Toe het Áriog Daniël haastig voor die koning ingebring en só vir hom gesê: Ek het ’n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak. Die koning het geantwoord en aan Daniël, wie se naam Béltsasar was, gesê: Is jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het, en sy uitlegging bekend te maak? Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit: Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur. En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur ’n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken. U, o koning, het ’n gesig gehad—kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het. Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê: U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het—ú is die hoof van goud. En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis. En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was—dit sal ’n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is—’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het—hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie. Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan — net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar. Toe het koning Nebukadnésar op sy aangesig geval en Daniël aanbid en bevel gegee om aan hom ’n spysoffer en reukoffers te bring. Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar. Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die wyse manne van Babel. En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.
KONING Nebukadnésar aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon: Mag julle vrede groot wees! Dit behaag my om die tekens en wonders wat die allerhoogste God aan my gedoen het, te verkondig. Hoe groot is sy tekens, en hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag! Ek, Nebukadnésar, het rustig in my huis gelewe en was voorspoedig in my paleis. Ek het ’n droomgesig gesien wat my verskrik het—droombeelde op my bed en die gesigte van my hoof het my verontrus. Daarop is deur my bevel gegee om al die wyse manne van Babel voor my te bring, dat hulle my die uitlegging van die droom bekend kan maak. Toe het die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers gekom, en ek het hulle die droom vertel, maar hulle het sy uitlegging my nie bekend gemaak nie; totdat eindelik Daniël voor my ingekom het, wie se naam Béltsasar is, na die naam van my god, en in wie die gees van die heilige gode is; en ek het hom die droom vertel: Béltsasar, owerste van die geleerdes, van wie ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen enkele geheim jou kwel nie, vertel my die droomgesigte wat ek gesien het, naamlik die uitlegging daarvan. Wat nou die gesigte van my hoof op my bed betref—ek het gesien, en kyk, daar was ’n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was groot. Die boom het groot geword en sterk, en sy hoogte het tot aan die hemel gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was. Sy blare was mooi en sy vrugte baie, en aan hom was vir alles voedsel; onder hom het die diere van die veld skaduwee gesoek, en in sy takke het die voëls van die hemel gewoon, ja, alle vlees is daardeur gevoed. Ek het in die gesigte van my hoof op my bed gesien, en kyk, ’n bode, naamlik ’n heilige, het uit die hemel neergedaal; hy het hardop geroep en só gesê: Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke. Maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met ’n band van yster en koper in die groen gras van die veld; en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en saam met die diere deel hê aan die plante van die aarde. Laat sy hart anders word as dié van ’n mens en ’n dierehart aan hom gegee word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan. Op ’n besluit van die bodes berus die bevel, en ’n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel. Dit is die droomgesig wat ek, koning Nebukadnésar, gehad het; en jy, Béltsasar, sê my die uitlegging, omdat al die wyse manne van my koninkryk my die uitlegging nie kon bekend maak nie; maar jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou. Toe het Daniël, wie se naam Béltsasar was, ’n oomblik verstom gestaan en sy gedagtes het hom verskrik. Die koning het daarop gespreek en gesê: Béltsasar, laat die droom en die uitlegging jou nie verskrik nie. Béltsasar het geantwoord en gesê: My heer, mag die droom u haters en sy uitlegging u teëstanders oorkom. Die boom wat u gesien het—wat groot en sterk geword het, en waarvan die hoogte tot aan die hemel gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was, en waarvan die blare mooi en die vrugte baie gewees het, en waar voedsel vir alles aan was, waaronder die diere van die veld gehou en in die takke waarvan die voëls van die hemel gewoon het — dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde. En dat die koning ’n bode, naamlik ’n heilige, uit die hemel sien neerdaal het met die woorde: Kap die boom om en verwoes hom, maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met ’n band van yster en koper in die groen gras van die veld, en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en sy lot saam met die diere van die veld wees totdat sewe tydperke oor hom heengegaan het — dit is die uitlegging, o koning, en dit is die besluit van die Allerhoogste wat oor my heer die koning kom: Hulle sal u uit die mensdom verstoot, en u woning sal saam met die diere van die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil. En dat hulle bevel gegee het om die penwortel van die boom te laat staan—u koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers. Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees. Dit alles het oor koning Nebukadnésar gekom. Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel, het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie? Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar ’n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê—die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil. Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar—hy is uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls. En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ’n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is. En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie? In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref—my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel, en buitengewone grootheid is my toegevoeg. Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.
IN die eerste jaar van Bélsasar, die koning van Babel, het Daniël ’n droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed. Toe het hy die droom opgeskrywe, die hoofsaak vertel.
Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees;
En omdat hulle in ’n droom ’n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ’n ander pad na hul land teruggegaan. EN toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. ... EN ná die dood van Herodes het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef in Egipte verskyn
JAKOB het ook verder gereis, en die engele van God het hom ontmoet. Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is ’n leër van God! En hy het die plek Mahanáim genoem.
want die HERE—sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.
Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.
In my eerste verdediging het niemand my bygestaan nie, maar almal het my verlaat. Mag dit hulle nie toegereken word nie! Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking heeltemal volbring kan word en al die heidene dit kan hoor; en ek is uit die bek van die leeu verlos.