Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak.
En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak. En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: ’n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.
Toe sê hulle vir mekaar: Voorwaar, ons boet nou vanweë ons broer, omdat ons die benoudheid van sy siel gesien het toe hy ons gesmeek het en ons nie geluister het nie—daarom kom hierdie benoudheid oor ons. Daarop antwoord Ruben hulle: Het ek nie vir julle gesê nie: Besondig julle nie aan die seun nie? Maar julle het nie geluister nie. Kyk, so word dan ook sy bloed geëis.
AL smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong, al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte — tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste.
want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot ’n val bring nie. Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid.