En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê,
Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot; en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie.
dat hy aan my gee die spelonk van Magpéla wat aan hom behoort, wat aan die end van sy stuk grond lê; laat hy dit vir die volle som aan my gee, dat ek ’n graf onder julle mag besit. En Efron het tussen die seuns van Het gesit. Toe antwoord Efron, die Hetiet, vir Abraham voor die ore van die seuns van Het, van almal wat in die poort van sy stad ingegaan het: Nee, my heer, luister na my. Die stuk grond gee ek aan u; ook die spelonk wat daarin is, dit gee ek aan u; voor die oë van die seuns van my volk gee ek dit aan u; begraaf u dode. Daarop het Abraham hom voor die volk van die land neergebuig en met Efron gespreek voor die ore van die volk van die land: Ja, as dit u is, ag, luister na my! Ek gee die geld vir die stuk grond; neem dit van my aan, dat ek my dode daar kan begrawe. En Efron het Abraham geantwoord en aan hom gesê: My heer, luister na my. ’n Stuk land van vierhonderd sikkels silwer—wat is dit tussen my en u? Begraaf maar u dode. Toe luister Abraham na Efron, en Abraham het aan Efron die geld afgeweeg waarvan hy gespreek het voor die ore van die seuns van Het—vierhonderd sikkels silwer gangbaar by die koopman. So het dan die stuk grond van Efron wat in Magpéla teenoor Mamre lê, die stuk grond en die spelonk wat daarin is, en al die bome op die stuk grond wat op die ganse gebied daarvan rondom staan, die eiendom van Abraham geword voor die oë van die seuns van Het, voor almal wat in die poort van sy stad ingegaan het. Daarna het Abraham toe sy vrou Sara begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, oostelik van Mamre, dit is Hebron, in die land Kanaän. So is dan die stuk grond en die spelonk wat daarin was, deur die seuns van Het aan Abraham afgestaan om dit as graf in eiendom te besit.
Daarna het hy hulle bevel gegee en aan hulle gesê: Ek word versamel by my volk. Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron, die Hetiet, is; in die spelonk wat op die stuk grond van Magpéla is, wat oos van Mamre lê, in die land Kanaän; die stuk grond wat Abraham van Efron, die Hetiet, as eiendomsgraf gekoop het.
sy seuns het hom weggebring na die land Kanaän en hom begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, die stuk grond wat Abraham as eiendomsgraf gekoop het van Efron, die Hetiet, oos van Mamre.