Kruisverwysings → Genesis 25:23

En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.

Twee nasies

Genesis 17:16
En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ’n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.
Genesis 24:60
En hulle het Rebekka geseën en aan haar gesê: Ons suster, mag jy duisende van tienduisende word, en mag jou nageslag die poort van sy vyande in besit neem!

twee volke

Genesis 25:27
En die seuns het opgegroei: Esau het ’n ervare jagter geword, ’n man van die veld; maar Jakob was ’n vredeliewende man wat in tente gewoon het.
Genesis 32:6
En die boodskappers het na Jakob teruggekom en gesê: Ons het by u broer Esau gekom, en hy trek u alreeds tegemoet en vierhonderd man saam met hom.
Genesis 33:3
maar hy self het voor hulle uit gegaan en hom sewe maal na die aarde gebuig, totdat hy by sy broer gekom het.
Genesis 36:31
En dit is die konings wat geregeer het in die land Edom voordat daar ’n koning geregeer het oor die kinders van Israel:
Númeri 20:14
Daarna het Moses uit Kades boodskappers na die koning van Edom gestuur: So sê jou broer Israel: Jy weet self al die moeilikheid wat ons oorgekom het.

oudste sal die jongste dien

Genesis 27:29,40
Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees ’n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën. ... En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk.
2 Samuel 8:14
En Dawid het wagposte in Edom uitgesit, in die hele Edom het hy wagposte uitgesit, en al die Edomiete het Dawid se knegte geword; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het.
1 Konings 22:48
Daar was toe nie ’n koning in Edom nie; ’n plaasvervanger was regeerder.
1 Kronieke 18:13
En hy het wagposte in Edom geplaas, sodat al die Edomiete knegte van Dawid geword het; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het.
2 Kronieke 25:11-12
Maar Amásia het moed geskep en sy manskappe aangevoer en die Soutdal ingetrek en die kinders van Seïr, tienduisend, verslaan. En tienduisend het die kinders van Juda lewendig as gevangenes weggevoer en hulle op die top van die krans gebring en hulle van die top van die krans afgegooi, sodat hulle almal verpletter is.
Psalms 60:10-11
Moab is my waskom; op Edom werp Ek my skoen; jubel oor My, o Filistéa! Wie sal my bring in die versterkte stad? Wie kan my lei tot in Edom?
Psalms 83:6-16
Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ’n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Ámalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is ’n arm vir die kinders van Lot. Sela. Maak met hulle soos met Mídian, soos met Sísera, soos met Jabin by die spruit Kison: hulle is verdelg by Endor, hulle het mis geword vir die grond. Maak hulle, hul edeles, soos Oreb en Seëb, en al hulle vorste soos Seba en Salmúna, wat sê: Laat ons die woninge van God vir ons in besit neem! My God, maak hulle soos strooi, soos stoppels voor die wind. Soos vuur wat ’n bos verbrand, en soos die vlam wat berge aan die brand steek — vervolg hulle só met u storm en verskrik hulle met u stormwind.
Jesaja 34:1-17
KOM nader, o volke, om te hoor; en nasies, luister! Laat die aarde hoor, en die volheid daarvan, die wêreld en alles wat daaruit voortkom. Want die toorn van die HERE is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word. En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op, en die berge smelt van hulle bloed. En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos ’n boek en al sy leërskare val af soos ’n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom. Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word. Die swaard van die HERE is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die HERE het ’n slagoffer in Bosra en ’n groot slagting in die land Edom. Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere; en hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet. Want die HERE hou ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion. En sy strome sal in pik verander word en sy stof in swawel, en sy land sal brandende pik word. Dit sal snags of oordag nie uitgeblus word nie; vir ewig gaan sy rook op; van geslag tot geslag lê dit woes, vir altyd en ewig trek niemand daardeur nie. Maar die pelikaan en die krimpvarkie neem dit in besit, en die uil en die kraai woon daarin. En Hy sal die riglyn van woestheid daaroor span en die skietlood van vormloosheid. Sy edeles—daar sal hulle geen koninkryk meer uitroep nie, en met al sy vorste is dit gedaan. En sy paleise word begroei met dorings, brandnekels en distels sal in sy vestings wees. En dit sal ’n lêplek van jakkalse, ’n verblyf vir die volstruise wees. En boskatte kom wildehonde teë, en veldduiwels ontmoet mekaar; ook woon die naggees daar in vrede en vind ’n rusplek vir hom. Daar maak die pylslang sy nes en lê eiers en broei dit uit en koester haar kleintjies daar in die skaduwee; ook sal die kuikendiewe daar bymekaarkom, die een by die ander. Soek in die boek van die HERE en lees! Nie een van hierdie wesens ontbreek nie, die een mis die ander nie; want my mond—dié het dit beveel, en sy Gees—dié het hulle bymekaargebring. En Hý het vir hulle die lot gewerp, en sy hand het die land aan hulle met die meetsnoer uitgedeel; tot in ewigheid sal hulle dit besit, van geslag tot geslag daarin woon.
Jesaja 63:1-6
WIE is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun. En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop.
Jeremia 49:7-22
OOR Edom. So sê die HERE van die leërskare: Is daar geen wysheid meer in Teman nie? Ontbreek raad by die verstandiges? Is hulle wysheid uitgeput? Vlug, draai om, skuil diep weg, o inwoners van Dedan! Want Ek het die ondergang van Esau oor hom gebring, die tyd dat Ek oor hom besoeking doen. As daar druiwesnyers na jou kom, sal hulle geen na-oes laat oorbly nie; of diewe in die nag—hulle sal verniel totdat hulle genoeg het. Want Ek het Esau ontbloot, Ek het sy skuilplekke oopgemaak, sodat hy hom nie kan wegsteek nie; sy geslag is verwoes, ook sy broers en sy bure, en hy is daar nie. Laat jou wese agterbly, en Ék sal hulle in die lewe hou, en laat jou weduwees op My vertrou. Want so sê die HERE: Kyk, hulle wat eintlik die beker nie moes drink nie, moet sekerlik drink; en jy, sou jy heeltemal ongestraf bly? Jy sal nie ongestraf bly nie, maar sekerlik drink. Want Ek het by Myself gesweer, spreek die HERE, dat Bosra ’n voorwerp van verbasing, van smaad, ’n woestheid en ’n vervloeking sal word; en al sy stede sal ewige puinhope wees. Ek het ’n tyding van die HERE gehoor, en ’n boodskapper is gestuur onder die nasies om te sê: Versamel julle en kom aan teen hom en maak julle gereed vir die oorlog. Want kyk, Ek het jou klein gemaak onder die nasies, verag onder die mense. Jou vreeslikheid het jou bedrieg, die vermetelheid van jou hart, o jy wat woon in die rotsklowe, jy wat die top van die heuwel in besit hou! Al maak jy jou nes so hoog soos die arend—daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die HERE. So sal Edom dan ’n voorwerp van verbasing word; elkeen wat by hom verbytrek, sal hom verbaas en spot oor al sy plae. Soos die omkering van Sodom en Gomorra met hulle bure, sê die HERE, sal daar niemand woon en geen mensekind daar vertoef nie. Kyk, soos ’n leeu uit die pronkbosse van die Jordaan sal daar een optrek teen die vaste woning; want in ’n oomblik sal Ek hulle daaruit wegjaag; en hom wat uitgekies is, sal Ek daaroor aanstel. Want wie is soos Ek? En wie sal My dagvaar? En wie is tog ’n herder wat voor my aangesig kan standhou? Daarom, hoor die raadsbesluit van die HERE wat Hy teen Edom geneem en sy planne wat Hy teen die inwoners van Teman beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees. Van die geluid van hulle val bewe die aarde; daar is ’n geskreeu—by die Skelfsee word die geluid daarvan gehoor. Kyk, een sal opstyg en vlieg soos ’n arend en sy vlerke oor Bosra uitsprei; en die hart van die helde van Edom sal in dié dag wees soos die hart van ’n vrou wat in nood is.
Esegiël 25:12-14
SO sê die Here HERE: Omdat Edom wraaksugtig gehandel het teen die huis van Juda en hom baie skuldig gemaak het en hom op hulle gewreek het — daarom, so sê die Here HERE: Ek sal my hand uitstrek teen Edom en daaruit mens en dier uitroei; en Ek sal dit ’n puinhoop maak van Teman af, en tot by Dedan sal hulle deur die swaard val. En Ek sal my wraak op Edom in die hand van my volk Israel gee, en hulle sal met Edom handel volgens my toorn en my grimmigheid; so sal hulle dan my wraak gewaar word, spreek die Here HERE.
Esegiël 35:1-15
VERDER het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, rig jou aangesig teen die berg Seïr en profeteer teen hom. En sê vir hom: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o berg Seïr! En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou ’n wildernis en ’n woesteny maak. Ek sal jou stede ’n puinhoop maak, en jy self sal ’n wildernis word; en jy sal weet dat Ek die HERE is. Omdat jy ’n ewige vyandskap koester en die kinders van Israel in die mag van die swaard oorgelewer het in die tyd van hulle onheil, in die tyd van uiteindelike afrekening, daarom, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek sal jou tot bloed maak, en bloed sal jou vervolg; omdat jy bloed nie gehaat het nie, sal bloed jou vervolg. En Ek sal die berg Seïr ’n woesteny en ’n wildernis maak, en uit hom uitroei die wat deurtrek en wat terugkom. En Ek sal sy berge vol maak met die wat uit hom verslaan is; jou heuwels en jou dale en al jou klowe—die wat verslaan is deur die swaard, sal daarin val. Ewige wildernisse sal Ek jou maak, en jou stede sal nie bewoon word nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is. Omdat jy sê: Die twee nasies daar en die twee lande sal myne wees, en ons sal dit in besit neem—terwyl tog die HERE daar gewees het — daarom, so waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek sal handel volgens jou toorn en jou naywer waarmee jy uit jou haat teen hulle gehandel het; en Ek sal onder hulle bekend word as Ek jou oordeel. En jy sal weet dat Ek, die HERE, al jou lasterlike woorde gehoor het wat jy teen die berge van Israel gespreek het deur te sê: Hulle lê woes, hulle is aan ons gegee tot spys. So het julle dan jul groot gehou teen My met julle mond en julle woorde teen My opgehoop; Ek het dit gehoor. So sê die Here HERE: Tot vreugde van die hele aarde sal Ek jou ’n wildernis maak. Soos jy vrolik was oor die erfdeel van die huis van Israel, omdat dit verwoes is, so sal Ek met jou maak: jy sal ’n wildernis word, o berg Seïr en die hele Edom, almal saam. En hulle sal weet dat Ek die HERE is.
Amos 1:11-12
So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Edom, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy sy broer met die swaard agtervolg het en sy jammergevoel verstik het, sodat sy toorn altyd verskeur en hy gedurigdeur sy grimmigheid behou. Daarom sal Ek ’n vuur slinger in Teman, en dit sal die paleise van Bosra verteer.
Obadja 1:1-16
DIE gesig van Obadja. So sê die Here HERE aangaande Edom: Ons het ’n tyding van die HERE gehoor, en ’n boodskapper is uitgestuur onder die nasies om te sê: Staan op, en laat ons klaarmaak om teen hom te veg! Kyk, Ek het jou klein gemaak onder die nasies, jy is baie verag. Die vermetelheid van jou hart het jou bedrieg, o jy wat woon in die rotsklowe, op hoë plekke bly, en in jou hart sê: Wie sal my op die aarde neerwerp? Al woon jy so hoog soos die arend en al was jou nes tussen die sterre gestel—daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die HERE. As daar diewe, as daar nagrowers na jou gekom het—hoe is jy vernietig!—sou hulle nie net soveel gesteel het as wat vir hulle genoeg was nie? As daar druiwesnyers na jou gekom het, sou hulle nie die na-oes laat oorbly het nie? Hoe is Esau deursoek! Is sy verborge skatte deursnuffel! Al jou bondgenote het jou tot by die grens gestuur; die manne met wie jy vriendskap gehou het, het jou bedrieg, jou oorweldig; hulle lê ’n strik onder jou as jou brood. Daar is geen verstand in hom nie! Sal Ek nie in dié dag, spreek die HERE, die wyse manne uit Edom verdelg nie en die verstand uit die gebergte van Esau? En jou helde sal verskrik wees, o Teman, sodat elkeen deur moord uit die gebergte van Esau uitgeroei sal word. Weens die geweld teen jou broer Jakob gepleeg, sal skande jou bedek, en jy sal uitgeroei word vir ewig. Die dag toe jy daarby gestaan het, die dag toe vreemdes sy rykdom weggevoer en uitlanders deur sy poorte gedring en die lot oor Jerusalem gewerp het—toe was jy ook soos een van hulle! En tog moes jy nie met genot die dag van jou broer aanskou het nie, die dag van sy onheil, en jou nie verheug het oor die kinders van Juda op die dag van hulle ondergang nie en nie gespog het op die dag van benoudheid nie! Tog moes jy nie in die poort van my volk gekom het op die dag van hulle nood nie, moes jy ook nie met genot aanskou het sy onheil op die dag van sy nood nie en nie die hand uitgesteek het na sy rykdom op die dag van sy nood nie! En jy moes nie gestaan het op die kruispad om sy vlugtelinge uit te roei nie en nie sy vrygeraaktes uitgelewer het op die dag van benoudheid nie. Want die dag van die HERE is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom. Want net soos julle gedrink het op my heilige berg, sal al die nasies gedurigdeur drink, ja, hulle sal drink en swelg en word asof hulle nooit bestaan het nie.
Maleagi 1:2-5
Ek het julle liefgehad, sê die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte ’n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee. As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou—dan sê die HERE van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die HERE vertoornd is tot in ewigheid! En julle oë sal dit aanskou, en julle sal sê: Groot is die HERE oor die gebied van Israel!
Romeine 9:10-13
En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader. Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie — dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep — is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien. Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.