Die HERE, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee—Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar ’n vrou gaan haal.
So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee; en Hý het my opgedra om vir Hom ’n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is.
Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan —
En in dié uur het daar ’n groot aardbewing gekom, en ’n tiende van die stad het geval, en seweduisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring.
EN die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf-en-sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran. En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom. En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More. Die Kanaäniete was toe in die land. Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ’n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.
Op dié dag het die HERE met Abram ’n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:
En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ’n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ’n God wees.
en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.
Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; ... En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.
En as die HERE jou bring in die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Hewiete en Jebusiete, wat Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het om aan jou te gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning, dan moet jy hierdie diens in hierdie maand onderhou.
Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir wie U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die hemel, en hierdie hele land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe.
Omdat die HERE hierdie volk nie kon inbring in die land wat Hy hulle met ’n eed beloof het nie, het Hy hulle in die woestyn omgebring. ... Waarlik, júlle sal nie in die land kom waaroor Ek my hand opgehef het om julle daarin te laat woon nie, behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun.
Waarlik, geeneen van die manne wat uit Egipte opgetrek het, van twintig jaar oud en daarbo, sal die land sien wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het nie; want hulle het nie volhard om My te volg nie —
Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat die HERE aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle.
En die HERE het vir hom gesê: Dit is die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ’n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie.
TOE trek die Engel van die HERE van Gilgal op na Bogim en sê: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met ’n eed beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie;
En Hy het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs nie ’n voetbreed nie, maar Hy het belowe om dit aan hom en sy nageslag ná hom as eiendom te gee, toe hy nog geen kind gehad het nie.
Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.
Kyk, Ek stuur ’n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom. Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees. Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig.
In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hý hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.