En Nahor het ná die geboorte van Tera nog honderd-en-negentien jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad. Toe Tera sewentig jaar oud was, het hy die vader geword van Abram, Nahor en Haran. En dit is die stamboom van Tera: Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran van Lot. En Haran het gesterwe terwyl sy vader Tera nog geleef het, in sy geboorteland, in Ur van die Chaldeërs. En Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka, die dogter van Haran, die vader van Milka en die vader van Jiska. En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie. En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. En hulle het tot by Haran gekom en daar gaan woon. En die dae van Tera was twee-honderd-en-vyf jaar, en Tera het in Haran gesterwe.
EN die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. ... Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ’n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.
Ná hierdie dinge het hulle aan Abraham berig gebring en gesê: Kyk, Milka het ook vir jou broer Nahor seuns gebaar: Us, sy eersgeborene, en Bus, sy broer, en Kémuel, die vader van Aram, ook Kesed en Haso en Pildas en Jidlaf en Bétuel. (En Bétuel was die vader van Rebekka.) Hierdie agt het Milka vir Nahor, die broer van Abraham, gebaar.
Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar ’n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer.