En Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka, die dogter van Haran, die vader van Milka en die vader van Jiska. En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie.
Verder het God aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees. En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ’n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom. Toe val Abraham op sy aangesig, en hy lag en sê in sy hart: Kan daar vir een wat honderd jaar oud is, ’n kind gebore word? Of kan Sara, wat negentig jaar oud is, baar? En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig! Toe antwoord God: Voorwaar, jou vrou Sara sal vir jou ’n seun baar, en jy moet hom Isak noem; en Ek sal my verbond met hom oprig as ’n ewige verbond vir sy nageslag ná hom.
En Hy sê: Ek sal oor ’n jaar sekerlik weer na jou toe kom—dan sal jou vrou Sara ’n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was. Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie. En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is? Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het? Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ’n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ’n seun hê.
EN die HERE het Sara besoek soos Hy beloof het; en die HERE het aan Sara gedoen soos Hy gespreek het: Sara het bevrug geword en vir Abraham in sy ouderdom ’n seun gebaar op die bepaalde tyd wat God genoem het. En Abraham het sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het, Isak genoem. En Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel het. En Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom gebore is. En Sara het gesê: ’n Gelag het God my berei: elkeen wat dit hoor, sal oor my lag. Verder sê sy: Wie kon ooit aan Abraham voorspel het: Sara soog kinders? Want ek het ’n seun gebaar in sy ouderdom.
En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.