Kruisverwysings → Genesis 24:3

dat ek jou kan laat sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie;

sweer

Genesis 21:23
Sweer dan nou vir my hier by God dat jy met my en my kroos en my nageslag nie vals sal handel nie; dieselfde guns wat ek jou bewys het, moet jy aan my bewys en aan die land waarin jy as vreemdeling vertoef.
Genesis 26:28-31
Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is. Daarom het ons gedink: Laat daar tog ’n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat ons ’n verbond met jou sluit: jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal die geseënde van die HERE. Toe berei hy vir hulle ’n maaltyd, en hulle het geëet en gedrink. En hulle is die môre vroeg op en het vir mekaar ’n eed gesweer. Daarop het Isak hulle laat gaan, en hulle het in vrede van hom af weggetrek.
Genesis 31:44-53
Kom dan nou, laat ons ’n verbond sluit, ek en jy, dat dit ’n getuie tussen my en jou kan wees. Daarop het Jakob ’n klip geneem en dit as gedenksteen opgerig. En Jakob het aan sy broers gesê: Bring klippe bymekaar! En hulle het klippe gaan haal en ’n hoop gemaak en daar op die hoop geëet. En Laban het dit Jegar-Sahadúta genoem, maar Jakob het dit Gal-ed genoem. Toe sê Laban: Hierdie hoop is vandag ’n getuie tussen my en jou. Daarom het hulle dit Gal-ed genoem, en ook Mispa, omdat hy gesê het: Mag die HERE wag hou tussen my en jou as ons mekaar nie meer sien nie. As jy my dogters mishandel, en as jy vroue neem by my dogters, dan is geen mens by ons nie: kyk, God is getuie tussen my en jou. Verder sê Laban vir Jakob: Daar is dié hoop klippe, en daar is die gedenksteen wat ek tussen my en jou opgerig het— hierdie hoop klippe is getuie, en die gedenksteen is getuie dat ék na jou kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie, en dat jý na my kant toe hierdie hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie. Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak.
Genesis 50:25
En Josef het die seuns van Israel laat sweer en gesê: As God sekerlik op julle ag sal gee—bring dan my gebeente hiervandaan op.
Eksodus 20:7
Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
Eksodus 22:11
dan moet die eed by die HERE tussen hulle twee beslis, of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het nie; en die eienaar moet daarmee tevrede wees, en die ander hoef geen vergoeding te gee nie.
Eksodus 23:13
En in alles wat Ek julle gesê het, moet julle jul in ag neem. En die naam van ander gode mag julle nie vermeld nie; dit mag uit jou mond nie gehoor word nie.
Levitikus 19:12
En julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die HERE.
Númeri 5:21
so moet dan die priester die vrou met die eed van vervloeking besweer, en die priester moet aan die vrou sê: Mag die HERE jou tot ’n vervloeking en ’n verwensing maak onder jou volk deurdat die HERE jou heup laat inval en jou skoot laat opswel;
Deuteronómium 6:13
Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.
Deuteronómium 10:20
Die HERE jou God moet jy vrees, Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang en by sy Naam sweer.
Josua 2:12
Sweer dan nou tog vir my by die HERE dat, terwyl ek aan julle ’n guns bewys het, julle ook aan my familie ’n guns sal bewys; en gee my ’n betroubare teken
1 Samuel 20:17
En Jónatan het Dawid weer laat sweer by sy liefde vir hom; want hy het hom liefgehad met die liefde van sy siel.
Nehemia 13:25
Daarom het ek met hulle getwis en hulle gevloek, en sommige van hulle geslaan en die hare uitgepluk en hulle by God besweer: Julle mag julle dogters nie aan hulle seuns gee, en julle mag nie van hulle dogters vir julle seuns of vir julleself neem nie!
Jesaja 45:23
Ek sweer by Myself; geregtigheid gaan uit my mond, ’n woord wat nie herroep word nie: dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer.
Jesaja 48:1
HOOR dit, huis van Jakob wat julleself noem met die naam van Israel en uit die waters van Juda voortgekom het, wat sweer by die Naam van die HERE en die God van Israel roem, maar nie in waarheid of in geregtigheid nie —
Jesaja 65:16
sodat hy wat homself seën in die land, hom sal seën by die God van waarheid; en hy wat sweer in die land, sal sweer by die God van waarheid, omdat die vorige benoudhede vergeet is en verborge vir my oë.
Jeremia 4:2
Dan sal jy sweer: So waar as die HERE leef! in waarheid, in reg en in geregtigheid; en die nasies sal hulleself in Hom seën en hulle in Hom beroem.
Jeremia 12:16
En as hulle ywerig die weë van my volk leer om te sweer by my Naam: So waar as die HERE leef, soos hulle my volk geleer het om te sweer by Baäl—dan sal hulle onder my volk gebou word.
Sefanja 1:5
en die wat op die dakke die leër van die hemel aanbid; en die aanbidders wat by die HERE sweer en sweer by Milkom.
Hebreërs 6:16
Want mense sweer by een wat meer is, en die eed van bevestiging is vir hulle die einde van alle teëspraak.

God van die hemel

Genesis 14:22
Toe antwoord Abram die koning van Sodom: Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde,
2 Konings 19:15
En Hiskía het voor die aangesig van die HERE gebid en gesê: HERE, God van Israel, wat op die gérubs troon, U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde, Ú het die hemel en die aarde gemaak!
2 Kronieke 2:12
Verder het Huram gesê: Geloofd sy die HERE, die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het, wat aan koning Dawid ’n wyse seun gegee het, begaafd met insig en verstand, om ’n huis vir die HERE en ’n huis vir sy koninkryk te bou.
Nehemia 9:6
U is alleen die HERE, Ú het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.
Psalms 115:15
Julle is geseënd deur die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
Jeremia 10:11
so moet julle vir hulle sê: Die gode wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit —

geen vrou sal neem

Genesis 6:2,4
sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. ... In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.
Genesis 26:34-35
Toe Esau veertig jaar oud was, het hy Judit, die dogter van Beëri, die Hetiet, vir hom as vrou geneem, en Basmat, die dogter van Elon, die Hetiet. En hulle was vir Isak en Rebekka ’n bitter verdriet.
Genesis 27:46
Verder sê Rebekka vir Isak: Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van Het. As Jakob ’n vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die dogters van die land—waarvoor lewe ek dan?
Genesis 28:1-2,8
TOE het Isak Jakob geroep en hom geseën; en hy het hom bevel gegee met die woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie. Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar ’n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer. ... en toe Esau sien dat die dogters van Kanaän sleg was in die oë van sy vader Isak,
Eksodus 34:16
en jy sal van sy dogters neem vir jou seuns, en sy dogters sal agter hulle gode aan hoereer en jou seuns agter hulle gode aan laat hoereer.
Deuteronómium 7:3-4
Jy mag jou ook nie met hulle verswaer nie—jy mag jou dogter nie gee aan sy seun, en sy dogter nie neem vir jou seun nie; want hy sal jou seun van My afvallig maak, sodat hulle ander gode dien en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy jou gou verdelg.
1 Korinthiërs 7:39
’n Vrou is deur die wet gebonde so lank as haar man lewe; maar as die man ontslaap het, is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here.
2 Korinthiërs 6:14-17
Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;