Nee, my heer, luister na my. Die stuk grond gee ek aan u; ook die spelonk wat daarin is, dit gee ek aan u; voor die oë van die seuns van my volk gee ek dit aan u; begraaf u dode.
Luister na ons, my heer! U is ’n vors van God onder ons. Begraaf u dode in die beste graf wat ons het; niemand van ons sal u sy graf weier om u dode te begrawe nie.
Toe Arauna opkyk en die koning met sy dienaars na hom sien oorkom, het Arauna uitgegaan en hom voor die koning met sy aangesig na die aarde gebuig. En Arauna het gesê: Waarom kom my heer die koning na sy dienaar? Daarop sê Dawid: Om die dorsvloer van jou te koop, om vir die HERE ’n altaar te bou, sodat die plaag onder die volk kan ophou. Maar Arauna sê vir Dawid: My heer die koning kan neem en offer wat goed is in sy oë: kyk, daar is die beeste as die brandoffer en die sleë en die trekgoed van die beeste as hout. Dit gee Arauna alles, o koning, aan die koning. Verder het Arauna aan die koning gesê: Mag die HERE u God ’n behae in u hê. Maar die koning het Arauna geantwoord: Nee, maar ek wil dit verseker van jou koop vir sy prys; en ek wil nie verniet aan die HERE my God brandoffers bring nie. En Dawid het die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer.
Daarop sê Dawid vir Ornan: Gee aan my die plek van die dorsvloer, dat ek daarop vir die HERE ’n altaar kan bou; gee dit aan my vir die volle geld, sodat die plaag van die volk afgewend kan word. Maar Ornan sê vir Dawid: Neem dit vir u, en laat my heer die koning doen wat goed is in sy oë; kyk, ek gee die beeste as brandoffers en die sleë as hout en die koring as ’n spysoffer; ek gee dit alles. Maar koning Dawid het vir Ornan gesê: Nee, maar ek wil dit verseker koop vir die volle geld; want ek wil nie wat aan jou behoort, vir die HERE neem, dat ek verniet ’n brandoffer sou bring nie.
As iemand ’n mens doodslaan, moet die moordenaar op verklaring van getuies gedood word; maar een getuie is nie genoegsaam om iemand tot die dood te veroordeel nie.
Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ’n saak van krag wees.
EN Boas het opgegaan na die poort en daar gaan sit. En toe die losser juis daar verbygaan van wie Boas gespreek het, sê hy: Vriend, kom nader, en sit hier! En hy het nader gekom en gaan sit. ... Nou het ek gedink, ek sal jou dit meedeel en sê: Koop dit voor die wat hier sit, en voor die oudstes van my volk; as jy wil los, los dan; maar as jy nie wil los nie, gee my te kenne, dat ek dit kan weet, want daar is niemand om te los behalwe jy nie, en ek ná jou. En hy antwoord: Ek sal los. ... Toe sê Boas aan die oudstes en al die mense: Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Eliméleg en alles wat aan Giljon en Maglon behoort het, uit die hand van Naómi koop. ... Toe sê al die mense wat in die poort was, en die oudstes: Ons is getuies; mag die HERE die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Éfrata en maak ’n naam in Betlehem!
Kyk, Hanámeël, die seun van Sallum, jou oom, kom na jou toe met die woorde: Koop vir jou my stuk grond wat in Ánatot lê, want jy het die reg van lossing om te koop. En Hanámeël, die seun van my oom, het na my gekom volgens die woord van die HERE in die voorhof van bewaking en vir my gesê: Koop tog my stuk grond wat in Ánatot in die land Benjamin lê, want jy het die reg van besit en jy het die lossing; koop dit vir jou. Toe het ek gemerk dat dit die woord van die HERE was. Daarop het ek van Hanámeël, die seun van my oom, die stuk grond gekoop wat in Ánatot lê, en vir hom die geld afgeweeg: sewentien sikkels silwer. En ek het dit in die brief geskrywe en dit verseël en getuies geneem en die geld afgeweeg op ’n weegskaal. Toe het ek die koopbrief geneem, die verseëlde een—volgens voorskrif en wetlike bepalinge—en die oop een, en die koopbrief aan Barug, die seun van Nería, die seun van Magséja, gegee voor die oë van Hanámeël, die seun van my oom, en voor die oë van die getuies wat die koopbrief onderteken het; voor die oë van al die Jode wat in die voorhof van bewaking gesit het;