Kruisverwysings → Genesis 22:18

En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.

in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word

Genesis 12:3
En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.
Genesis 18:18
terwyl Abraham tog sekerlik ’n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom geseën sal word?
Genesis 26:4
En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word;
Psalms 72:17
Mag sy naam vir ewig wees; mag sy naam uitspruit solank as die son daar is! En mag al die nasies in hom geseën word, hom gelukkig prys!
Handelinge 3:25
En julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word.
Romeine 1:3
aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid
Galásiërs 3:8-9,16,18,28-29
En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham. ... Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus. ... Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur ’n belofte genadiglik geskenk. ... Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.
Efésiërs 1:3
GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,

na my stem geluister

Genesis 22:3,10
Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir ’n brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het. ... Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag.
Genesis 26:5
omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.
1 Samuel 2:30
Daarom spreek die HERE, die God van Israel: Ek het wel duidelik gesê: Jou huis en die huis van jou vader sal voor my aangesig wandel tot in ewigheid. Maar nou spreek die HERE: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.
Jeremia 7:23
Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan.
Hebreërs 11:1-40
DIE geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang. Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie. Deur die geloof het Abel ’n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is. Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek. Deur die geloof het Noag, toe hy ’n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ’n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is. Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het. Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit ’n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is. In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ’n vaderland soek. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou verlang hulle na ’n beter een, dit is ’n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei. Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang. Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms. Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf. Deur die geloof het Josef aan die einde van sy lewe melding gemaak van die uittog van die kinders van Israel en bevel gegee aangaande sy gebeente. Deur die geloof is Moses ná sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek, omdat hulle gesien het dat die seuntjie mooi was; en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie. Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien. Deur die geloof het hy die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie. Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars, toe hulle dit probeer, verdrink het. Deur die geloof het die mure van Jérigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was. Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het. En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal, wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het. Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om ’n beter opstanding te kan verkry. Ander weer het die proef van bespottinge en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel — die wêreld was hulle nie werd nie — hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond. En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.