Kruisverwysings → Genesis 21:9

Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot;

seun van Hagar

Genesis 16:3-6,15
Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin—nadat Abram tien jaar in die land Kanaän gewoon het—en gee haar aan haar man Abram om sy vrou te wees. En hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword. Maar toe sy sien dat sy swanger was, het haar meesteres veragtelik in haar oë geword. En Sarai sê vir Abram: Die onreg my aangedoen, is op jou! Ek self het my slavin in jou skoot gegee, en nou dat sy sien dat sy swanger is, het ek veragtelik in haar oë geword. Laat die HERE oordeel tussen my en jou. En Abram antwoord Sarai: Daar is jou slavin in jou hand—doen met haar soos dit goed is in jou oë. Toe het Sarai haar sleg behandel, en sy het van haar af weggevlug. ... En Hagar het vir Abram ’n seun gebaar; en Abram het sy seun wat Hagar gebaar het, Ismael genoem.
Genesis 17:20
Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom en maak hom vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal hom ’n groot nasie maak.

Egiptiese

Genesis 16:1,15
MAAR Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie; en sy het ’n Egiptiese slavin gehad met die naam van Hagar. ... En Hagar het vir Abram ’n seun gebaar; en Abram het sy seun wat Hagar gebaar het, Ismael genoem.

spot

2 Konings 2:23-24
En daarvandaan het hy opgegaan na Bet-el; en terwyl hy met die pad opgaan, kom daar klein seuntjies uit die stad uit wat met hom spot en vir hom sê: Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop! Toe het hy agter hom omgekyk en hulle gesien en hulle gevloek in die Naam van die HERE; en twee berinne het uit die bos gekom en van hulle twee-en-veertig kinders verskeur.
2 Kronieke 30:10
Maar toe die hardlopers van stad tot stad die land Efraim en Manasse deurgaan tot by Sébulon, het hulle hul uitgelag en met hul gespot.
2 Kronieke 36:16
Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die HERE teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie.
Nehemia 4:1-5
MAAR toe Sanbállat hoor dat ons die muur bou, het hy kwaad geword en hom baie geërg, en hy het met die Jode gespot en voor sy broers en die leër van Samaría gespreek en gesê: Wat maak die magtelose Jode? Sal ’n mens hulle laat begaan? Sal hulle offer? Sal hulle dit vandag nog voltooi? Sal hulle die klippe uit die grondhope lewendig maak, al is dit deur brand verniel? En Tobía, die Ammoniet, het langs hom gestaan en gesê: Wat hulle ook al bou—as ’n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klipmuur omgooi! Hoor, onse God, dat ons ’n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof terug en gee hulle oor aan plundering in ’n land van gevangenskap. En dek hulle ongeregtigheid nie toe nie, en laat hulle sonde nie uitgedelg word voor u aangesig nie; want hulle het U geterg teenoor die bouers.
Job 30:1
EN nóu lag hulle wat jonger is as ek, my uit—mense wie se vaders ek te min geag het om by my herdershonde te sit.
Psalms 22:7
Maar ek is ’n wurm en geen man nie, ’n smaad van die mense en verag deur die volk.
Psalms 42:11
Met ’n doodsteek in my gebeente smaad my teëstanders my as hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
Psalms 44:14-15
U maak ons ’n smaad vir ons bure, ’n spot en beskimping vir die wat rondom ons is. U maak ons ’n spreekwoord onder die nasies, ’n hoofskudding onder die volke.
Spreuke 20:11
Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is.
Klaagliedere 1:7
Sajin. Jerusalem dink, in die dae van haar ellende en haar omswerwinge, aan al haar kosbaarhede wat gewees het van die dae van die voortyd af. Toe haar volk deur die hand van die teëstander geval het en daar vir haar geen helper was nie, het die teëstanders haar aanskou, hulle het gelag oor haar ongelukkige uiteinde.
Galásiërs 4:22,29
Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye. ... maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook.
Hebreërs 11:36
Ander weer het die proef van bespottinge en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis.