Toe open die HERE die oë van Bíleam, sodat hy die Engel van die HERE in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, en hy het gebuig en op sy aangesig neergeval.
En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa. En toe hulle na hom afkom, het Elísa tot die HERE gebid en gesê: Slaan tog hierdie mense met blindheid. En Hy het hulle op die woord van Elísa met blindheid geslaan. Daarop sê Elísa vir hulle: Dit is nie die weg, en dit is nie die stad nie; volg my, dan sal ek julle lei na die man wat julle soek; en hy het hulle na Samaría gelei. En by hulle aankoms in Samaría, sê Elísa: HERE, open hulle oë, dat hulle kan sien. En die HERE het hulle oë geopen, dat hulle kon sien, en daar was hulle binne-in Samaría!
Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.
Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie. En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef? En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen ’n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie? En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat ’n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk; en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het. En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook ’n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe. En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie. En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak of Hy verder wou gaan; maar hulle het by Hom aangedring en gesê: Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal; en Hy het ingegaan om by hulle te bly. En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle. Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn.