En Abiméleg het Abraham laat roep en hom gevra: Wat het jy ons aangedoen? En wat het ek teen jou gesondig, dat jy oor my en my koninkryk ’n groot sonde gebring het? Dinge wat nie mag gebeur nie, het jy my aangedoen.
En Moses het vir Aäron gesê: Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so ’n groot sonde oor hulle gebring het? ... So het die HERE dan die volk getref, omdat hulle die kalf gemaak het wat Aäron vervaardig het.
En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.
Verder sê hy: Waarom agtervolg my heer sy dienaar tog? Want wat het ek gedoen? Of watter kwaad is daar by my? Laat my heer die koning dan nou luister na die woorde van sy dienaar: As die HERE u teen my aanhits, bied Hom dan ’n spysoffer aan; maar as dit mensekinders is—vervloek is hulle voor die aangesig van die HERE, omdat hulle my vandag verdrywe, sodat ek my nie kan aansluit by die erfdeel van die HERE nie deurdat hulle sê: Gaan weg, dien ander gode!
Ná omtrent drie maande het hulle Juda laat weet en gesê: Tamar, jou skoondogter, het gehoereer, en sy is ook swanger deur hoerery! En Juda sê: Bring haar uit, dat sy verbrand kan word.
Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?
En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die HERE leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe! ... En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees. So sê die HERE: Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee, sodat hy by jou vroue sal slaap voor die oog van hierdie son.
En die seuns van Jakob het uit die veld gekom toe hulle dit hoor; en die manne was gegrief en baie kwaad, omdat hy ’n skanddaad in Israel begaan het deur met die dogter van Jakob gemeenskap te hou: so iets mag nie gebeur het nie.