Kruisverwysings → Genesis 20:7

Gee dan nou die man se vrou terug, want hy is ’n profeet; en hy sal vir jou bid, dat jy kan lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik sal sterwe, jy en almal wat aan jou behoort.

profeet

1 Konings 18:1-46
EN geruime tyd daarna het die woord van die HERE in die derde jaar tot Elía gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde. En Elía het gegaan om hom aan Agab te vertoon. En die hongersnood was swaar in Samaría. Toe laat Agab Obádja, wat oor die paleis was, roep. En Obádja het die HERE baie gevrees. Want toe Isébel die profete van die HERE uitgeroei het, het Obádja honderd profete geneem en hulle vyftig by vyftig man in ’n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou. En Agab het vir Obádja gesê: Trek deur die land na al die waterfonteine en na al die spruite; miskien sal ons gras kry, sodat ons die perde en muile in die lewe kan hou en van die vee nie hoef uit te roei nie. En hulle het die land onder mekaar verdeel om dit deur te trek: Agab het afsonderlik met een pad getrek, en Obádja het afsonderlik met ’n ander pad getrek. Terwyl Obádja op pad was, kom Elía hom meteens tegemoet; en toe hy hom herken, val hy op sy aangesig en vra: Is dit u, my heer Elía? En hy sê: Dit is ek; gaan sê aan jou heer: Elía is daar. Maar hy vra: Wat het ek gesondig, dat u u dienaar oorgee in die hand van Agab om my om die lewe te bring? So waar as die HERE u God leef, daar is geen nasie of koninkryk waar my heer nie heen gestuur het om u te soek nie; en as hulle sê: Hy is nie hier nie—dan laat hy die koninkryk en die nasie sweer dat hulle u nie kon vind nie. En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! As ek nou van u af weggaan en die Gees van die HERE u wegneem—ek weet nie waarheen nie—en ek kom om Agab berig te bring en hy vind u nie, dan sal hy my doodmaak; en u dienaar vrees die HERE van sy jeug af. Is dit nie aan my heer meegedeel wat ek gedoen het toe Isébel die profete van die HERE gedood het nie: dat ek van die profete van die HERE honderd man, vyftig by vyftig, in ’n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou het? En nou beveel u: Gaan sê aan jou heer: Elía is daar! dat hy my kan doodmaak! Maar Elía sê: So waar as die HERE van die leërskare leef, voor wie se aangesig ek staan, ek sal my verseker vandag aan hom vertoon! En Obádja het Agab tegemoetgegaan en hom dit meegedeel; en Agab het Elia tegemoetgegaan. En net toe Agab Elía sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel? Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die HERE verlaat het en agter die Baäls aan geloop het. Stuur dan nou, laat die hele Israel by my bymekaarkom op die berg Karmel, ook die vierhonderd-en-vyftig profete van Baäl en die vierhonderd profete van Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet. En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom. En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie. Toe sê Elía vir die volk: Ek het alleen oorgebly as profeet van die HERE, terwyl die profete van Baäl vierhonderd-en-vyftig is. Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak; en ék sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie. Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die HERE aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Die woord is goed. Verder het Elía aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god aan, maar julle mag geen vuur maak nie. En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: o Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het. En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos ’n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie. Toe sê Elía vir die hele volk: Kom nader na my. En die hele volk het nader gekom na hom; en hy het die altaar van die HERE herstel wat afgebreek was. Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders—tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees — en hy bou met die klippe ’n altaar in die Naam van die HERE. Daarna het hy ’n sloot gemaak rondom die altaar, ’n ruimte vir omtrent twee mate saad, en die hout gerangskik en die bul in stukke verdeel en bo-op die hout gelê. Toe sê hy: Maak vier kruike vol water en giet dit op die brandoffer en op die hout. En hy sê: Doen dit vir die tweede maal. En hulle het dit vir die tweede maal gedoen. En hy sê: Doen dit vir die derde maal. En hulle het dit vir die derde maal gedoen, sodat die water rondom die altaar geloop het; en ook die sloot het hy vol water gemaak. En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet Elía nader gekom en gesê: HERE, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit vandag bekend word dat U God in Israel is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het. Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die HERE neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek. En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God! Maar Elía sê vir hulle: Gryp die profete van Baäl! Laat niemand van hulle vryraak nie! En hulle het hul gegryp; en Elía het hulle afgebring na die spruit Kison en hulle daar geslag. Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën! En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek. Daarop sê hy vir sy dienaar: Klim tog op, kyk uit na die see. En hy het opgeklim en uitgekyk en geroep: Daar is niks nie. Toe sê hy: Gaan weer—sewe maal. En die sewende maal roep hy: Daar gaan ’n wolkie soos ’n man se hand op uit die see. Toe sê hy: Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou nie terughou nie. En in ’n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en ’n groot reën het gekom; en Agab het op die wa geklim en weggetrek na Jísreël; maar die hand van die HERE was oor Elía, sodat hy sy heupe omgord en voor Agab uit geloop het in die rigting na Jísreël.
1 Korinthiërs 14:4
Hy wat in ’n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente.
Eksodus 4:16
En hý moet vir jou met die volk spreek, en dan sal hy vir jou ’n mond wees en jy vir hom ’n god wees.
Eksodus 7:1
EN die HERE het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ’n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees.
Eksodus 12:1-3
EN die HERE het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê: Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ’n lam neem volgens die families, ’n lam vir ’n huisgesin.
Eksodus 18:17
Maar Moses se skoonvader sê vir hom: Die ding wat jy doen, is nie goed nie.
1 Kronieke 16:22
Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.
Psalms 25:14
Samek. Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.
Psalms 105:9-15
die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ’n ewige verbond, met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel. Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin, en hulle getrek het van nasie tot nasie, van die een koninkryk na die ander volk, het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê: Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.
Hebreërs 1:1
NADAT God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete,

vir jou bid

Levitikus 6:4,7
as hy dan sondig en skuldig word, moet hy teruggee wat hy deur roof ontvreem of deur afpersing verkry het, of wat aan hom toevertrou was, of verlore goed wat hy gevind het; ... Dan moet die priester vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE, en dit sal hom vergewe word—enigiets wat ’n mens doen, sodat hy daardeur skuldig word.
1 Samuel 7:5,8
Verder het Samuel gesê: Versamel die hele Israel by Mispa, dan sal ek tot die HERE vir julle bid. ... En die kinders van Israel sê aan Samuel: Laat nie ná om die HERE onse God vir ons aan te roep nie, dat Hy ons uit die hand van die Filistyne verlos.
1 Samuel 12:19,23
Daarom het die hele volk vir Samuel gesê: Bid tot die HERE u God vir u knegte, dat ons nie sterf nie, omdat ons by al ons sondes nog kwaad gedoen het deur ’n koning vir ons te begeer. ... Ook wat my betref, dit is ver van my dat ek teen die HERE sou sondig, dat ek sou ophou om vir julle te bid; maar ek sal julle in die goeie en regte weg onderrig.
2 Samuel 24:17
Toe Dawid sien hoe die engel onder die volk doodslaan, het hy tot die HERE gespreek en gesê: Kyk, ék het gesondig, en ék het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen? Laat u hand tog teen my wees en teen my familie.
1 Konings 13:6
Toe begin die koning om aan die man van God te sê: Smeek tog die aangesig van die HERE jou God om genade en bid vir my, dat my hand tot my terugkeer. En die man van God het die aangesig van die HERE om genade gesmeek, sodat die hand van die koning tot hom teruggekeer het en dit soos tevore was.
2 Konings 5:11
Maar Naäman het baie kwaad geword en weggegaan en gesê: Kyk, ek het gedink: Hy sal sekerlik na my uitkom en staan en die Naam van die HERE sy God aanroep en sy hand oor die plek heen en weer beweeg en die melaatsheid wegneem.
2 Konings 19:2-4
Daarna stuur hy Éljakim wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en die oudstes van die priesters, met rouklere bedek, na die profeet Jesaja, die seun van Amos. En hulle sê vir hom: So sê Hiskía: Vandag is ’n dag van benoudheid en straf en lastering; want die kinders het gekom tot by die geboorte, maar daar is geen krag om te baar nie. Miskien sal die HERE u God al die woorde hoor van die rábsake wat deur sy heer, die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God te smaad, en sal Hy hom straf oor die woorde wat die HERE u God gehoor het; hef dan ’n gebed op vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is.
Job 42:8
Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, en gaan na my kneg Job en bring ’n brandoffer vir julle, en laat my kneg Job vir julle bid; want hom alleen sal Ek in guns aanneem, sodat Ek aan julle nie die dwaasheid laat vergelde nie; want julle het nie reg van My gespreek soos my kneg Job nie.
Jeremia 14:11
Verder het die HERE vir my gesê: Bid nie vir hierdie volk ten goede nie.
Jeremia 15:1
MAAR die HERE het vir my gesê: Al staan Moses en Samuel voor my aangesig, my siel wil niks van hierdie volk weet nie; dryf hulle van my aangesig af weg, en laat hulle heengaan.
Jeremia 27:18
Maar as hulle profete is, en as die woord van die HERE by hulle is, laat hulle tog die HERE van die leërskare dringend smeek, dat die voorwerpe wat in die huis van die HERE en die huis van die koning van Juda en in Jerusalem oorgebly het, nie in Babel kom nie.
Jakobus 5:14-16
Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag.
1 Johannes 5:16
As iemand sy broeder ’n sonde sien doen wat nie tot die dood is nie, moet hy bid, en Hy sal hom die lewe gee — vir die wat nie ’n sonde tot die dood doen nie. Daar is ’n sonde tot die dood; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie.
Openbaring 11:5-6
En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word. Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil.

sekerlik sal sterwe

Genesis 20:18
Want die HERE het elke moederskoot van die huis van Abiméleg geheel en al toegesluit ter wille van Sara, die vrou van Abraham.
Genesis 2:17
maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
Genesis 12:17
Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram.
Job 34:19
Hoeveel minder aan Hom wat die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande.
Psalms 105:14
het Hy geen mens toegelaat om hulle te verdruk nie; ook het Hy konings om hulle ontwil gestraf en gesê:
Esegiël 3:18
As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.
Esegiël 33:8,14-16
As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. ... En as Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en hy hom van sy sonde bekeer, en reg en geregtigheid doen — gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie—dan sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Al sy sondes wat hy gedoen het, sal hom nie toegereken word nie; hy het reg en geregtigheid gedoen, hy sal sekerlik lewe.
Hebreërs 13:4
Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.

almal wat aan jou behoort

Genesis 12:15
Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem.
Númeri 16:32-33
en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed. So het hulle dan met alles wat hulle s’n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.
2 Samuel 24:17
Toe Dawid sien hoe die engel onder die volk doodslaan, het hy tot die HERE gespreek en gesê: Kyk, ék het gesondig, en ék het verkeerd gehandel, maar wat het hierdie skape gedoen? Laat u hand tog teen my wees en teen my familie.