Maar God het in die nag by Abiméleg gekom in ’n droom en vir hom gesê: Kyk, jy sal sterwe ter wille van die vrou wat jy laat haal het, want sy is ’n getroude vrou.
En hy het gedroom—daar is ’n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het.
Ook het Josef ’n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat. ... Daarna het hy nog ’n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog ’n droom gehad—die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.
En hulle antwoord hom: Ons het ’n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie. En Josef vra hulle: Is uitlegging nie ’n saak van God nie? Vertel my tog.
NÁ verloop van twee volle jare het Farao gedroom dat hy by die Nyl staan; en kyk, daar kom sewe koeie uit die Nyl uit op wat mooi van aansien en vet van vleis was, en hulle het gaan wei in die rietgras. En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie uit die Nyl uit op wat lelik van aansien en maer van vleis was, en hulle het by die ander koeie op die wal van die Nyl gaan staan. En die koeie wat lelik van aansien en maer van vleis was, het die sewe koeie wat mooi van aansien en vet was, opgeëet. Toe het Farao wakker geword. En hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n keer gedroom; en kyk, sewe vet en mooi are skiet op aan een steel; en ná hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die oostewind verskroei was; en die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao wakker geword en kyk, dit was ’n droom! Dié môre was sy gees onrustig, en hy het al die towenaars en al die wyse manne van Egipte laat roep; en Farao het aan hulle sy droom vertel, maar niemand kon dit aan Farao uitlê nie. Toe het die voorman van die skinkers met Farao gespreek en gesê: Ek moet vandag my sondes in gedagtenis bring. Farao was baie kwaad vir sy dienaars en het my in bewaring gegee in die huis van die owerste van die lyfwag, my en die voorman van die bakkers. En ons het in dieselfde nag ’n droom gehad, ek en hy; ons het gedroom, elkeen ’n droom met besondere betekenis. En daar was by ons ’n Hebreeuse jongman, ’n kneg van die owerste van die lyfwag—aan hom het ons dit vertel, en hy het ons drome vir ons uitgelê; aan elkeen het hy die uitlegging volgens sy droom gegee. En soos hy ons dit uitgelê het, so het dit gebeur—my het hy in my rang herstel, maar hom opgehang. Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom. Toe sê Farao vir Josef: Ek het ’n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy ’n droom net hoef te hoor om dit uit te lê. En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao ’n gunstige antwoord gee. Toe sê Farao vir Josef: Kyk, ek het in my droom gestaan op die wal van die Nyl, en sewe koeie het uit die Nyl uit opgekom wat vet van vleis en mooi van uiterlik was, en hulle het gaan wei in die rietgras. En kyk, ná hulle kom daar nog sewe koeie op, skraal en baie lelik van uiterlik en maer van vleis; ek het soos hulle so lelik in die ganse Egipteland nie gesien nie. En die maer en lelike koeie het die sewe eerste vet koeie opgeëet; dié het in hulle maag ingegaan, maar ’n mens kon nie merk dat hulle in hul maag ingegaan het nie; want hulle aansien was lelik soos in die begin. Toe het ek wakker geword. Daarna het ek in my droom gesien, en kyk, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel. En ná hulle spruit daar sewe are uit wat dor, maer en deur die oostewind verskroei was; en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. En ek het dit aan die towenaars meegedeel, maar niemand kon my inligting gee nie. Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee. Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die droom is een en dieselfde. En die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood wees. Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien. Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer. En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees. En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is—dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen. Laat Farao dan nou uitkyk na ’n verstandige en wyse man en hom aanstel oor Egipteland. Farao moet so maak en opsigters oor die land aanstel en in die sewe jare van oorvloed die vyfde deel hef van die opbrings van Egipteland. En hulle moet al die voedsel van hierdie goeie jare wat kom, versamel en onder leiding van Farao koring ophoop as voedsel in die stede en dit wegbêre. So sal dan die voedsel ’n voorraad wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood wat in Egipteland sal kom, sodat die land nie deur die hongersnood te gronde gaan nie.
VERDER is ’n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het ’n gefluister daarvan opgevang, by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val.
Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees;
En omdat hulle in ’n droom ’n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ’n ander pad na hul land teruggegaan. EN toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.
En terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou na hom gestuur en gesê: Moet tog niks te doen hê met dié regverdige man nie, want ek het vandag in ’n droom baie gely om sy ontwil.
Gee dan nou die man se vrou terug, want hy is ’n profeet; en hy sal vir jou bid, dat jy kan lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik sal sterwe, jy en almal wat aan jou behoort.
En as Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe—en hy hom van sy sonde bekeer, en reg en geregtigheid doen — gee die goddelose die pand terug, vergoed hy wat geroof is, wandel hy in die insettinge van die lewe, sodat hy geen onreg doen nie—dan sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.