Kruisverwysings → Genesis 2:3

En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.

geseën

Eksodus 16:22-30
En op die sesde dag het hulle ’n dubbele porsie brood ingesamel, twee gomers vir elkeen. En al die owerstes van die vergadering het gekom en dit aan Moses vertel. Toe sê hy vir hulle: Dit is wat die HERE gespreek het: Môre is dit rusdag, ’n heilige sabbat van die HERE. Wat julle wil bak, bak dit; en wat julle wil kook, kook dit; en bêre vir julle alles wat oor is, om dit te bewaar tot die môre toe. En hulle het dit gebêre tot die môre toe, soos Moses beveel het; en dit het nie bederwe nie, en daar het geen wurms in gekom nie. Toe sê Moses: Eet dit vandag, want dit is vandag die sabbat van die HERE. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie. Ses dae lank moet julle dit insamel, maar op die sewende dag is dit sabbat; dan sal dit daar nie wees nie. En op die sewende dag het van die mense uitgegaan om in te samel, maar hulle het niks gekry nie. Toe sê die HERE vir Moses: Hoe lank weier julle om my gebooie en my wette te onderhou? Kyk, omdat die HERE julle die sabbat gegee het, daarom gee Hy julle op die sesde dag brood vir twee dae. Laat elkeen bly waar hy is; laat niemand op die sewende dag van sy woonplek af weggaan nie. So het die volk dan op die sewende dag gerus.
Eksodus 20:8-11
Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.
Eksodus 23:12
Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asem skep.
Eksodus 31:13-17
Spreek jý met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ’n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig. Onderhou dan die sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat daarop werk verrig, dié siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit. Ses dae lank kan werk verrig word, maar op die sewende dag moet dit wees ’n dag van volkome rus, heilig aan die HERE. Elkeen wat op die sabbatdag werk doen, moet sekerlik gedood word. En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ’n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ’n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.
Eksodus 34:21
Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus. In die ploegtyd en in die oestyd moet jy rus.
Eksodus 35:2-3
Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle ’n heiligheid, ’n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word. Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie.
Levitikus 23:3
Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ’n dag van volkome rus, ’n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie—dit is ’n sabbat van die HERE in al julle woonplekke.
Levitikus 25:2-3
Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n sabbat hou vir die HERE. Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;
Deuteronómium 5:12-14
Onderhou die sabbatdag, dat jy dit heilig soos die HERE jou God jou beveel het. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou os of jou esel of enige dier van jou, of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie; sodat jou dienskneg en jou diensmaagd kan rus soos jy.
Nehemia 9:14
En u heilige sabbat het U aan hulle bekend gemaak, en gebooie en insettinge en ’n wet deur die diens van u kneg Moses hulle beveel.
Nehemia 13:15-22
In dié dae het ek in Juda mense gesien wat op die sabbat die parskuipe trap en vragte koring, op esels gelaai, inbring, en ook wyn, druiwe en vye en allerhande vragte met goed, en dit op die sabbatdag in Jerusalem inbring; en ek het hulle gewaarsku op die dag toe hulle lewensmiddele verkoop het. Ook die Tiriërs wat daar gewoon het, het vis en allerhande koopware ingebring en op die sabbat aan die kinders van Juda selfs in Jerusalem verkoop. En ek het met die edeles van Juda getwis en vir hulle gesê: Watter verkeerde ding is dit wat julle doen, dat julle die sabbatdag ontheilig? Het julle vaders nie so gehandel, sodat onse God oor ons en oor hierdie stad al hierdie onheil gebring het nie? Ja, julle vermeerder die toorngloed oor Israel deur die sabbat te ontheilig! En sodra dit in die poorte van Jerusalem voor die sabbat donker was, het ek gesê dat die deure gesluit moes word; en ek het gesê dat hulle dit nie mag oopmaak tot ná die sabbat nie, en van my mense het ek by die poorte aangestel: geen vrag het op die sabbatdag mag inkom nie. Toe het die koopmans en handelaars in allerhande koopware ’n paar keer buitekant Jerusalem vernag. Maar ek het hulle gewaarsku en vir hulle gesê: Waarom vernag julle voor die muur? As julle dit weer doen, sal ek die hand aan julle slaan. Van dié tyd af het hulle nie meer op die sabbat gekom nie. Verder het ek aan die Leviete gesê dat hulle hul moes reinig en kom as poortwagters om die sabbatdag te heilig. Dink ook hierom aan my, my God, en ontferm U oor my na die grootheid van u goedertierenheid.
Spreuke 10:22
Die seën van die HERE—dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.
Jesaja 56:2-7
Welgeluksalig is die mens wat dit doen en die mensekind wat daaraan vashou; wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en sy hand terughou, dat dit geen kwaad doen nie. En laat die uitlander wat hom by die HERE aangesluit het, nie spreek en sê: Die HERE sal my gewis afskei van sy volk nie; en laat die ontmande nie sê: Kyk, ek is ’n droë boom nie. Want so sê die HERE aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond: Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ’n gedenkteken en ’n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ’n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie. En die uitlanders wat hulle by die HERE aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die HERE lief te hê deur sy knegte te wees—elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.
Jesaja 58:13-14
As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ’n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.
Jeremia 17:21-27
So spreek die HERE: Neem julle in ag om julle siele ontwil, dat julle geen las dra op die sabbatdag en dit inbring deur die poorte van Jerusalem nie. Ook mag julle geen las uit julle huise op die sabbatdag uitdra of enige werk doen nie; maar julle moet die sabbatdag heilig soos Ek julle vaders beveel het. Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard om nie te luister nie en geen tugtiging aan te neem nie. As julle dan aandagtig na My luister, spreek die HERE, om geen las deur die poorte van hierdie stad op die sabbatdag in te bring nie en om die sabbatdag te heilig deur daarop géén werk te doen nie, dan sal deur die poorte van hierdie stad konings en vorste ingaan wat op die troon van Dawid sit, wat op strydwaens en op perde ry, hulle en hulle vorste, die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem; en hierdie stad sal vir ewig bewoon word. En hulle sal kom uit die stede van Juda en uit die omstreke van Jerusalem en uit die land Benjamin en uit die Laeveld en uit die Gebergte en uit die Suidland, hulle wat brandoffer en slagoffer en spysoffer en wierook aanbring, en lofoffer aanbring in die huis van die HERE. Maar as julle na My nie luister om die sabbatdag te heilig nie en om geen las te dra of deur die poorte van Jerusalem op die sabbatdag in te gaan nie, sal Ek ’n vuur in sy poorte aansteek, wat die paleise van Jerusalem sal verteer en nie uitgeblus sal word nie.
Esegiël 20:12
Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ’n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die HERE, is wat hulle heilig.
Markus 2:27
En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.
Lukas 23:56
Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.
Hebreërs 4:4-10
Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ’n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ’n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.