Twee is beter as een, want hulle het ’n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ’n tweede is om hom op te tel. Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word? En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en ’n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.
Maar as iemand meen dat hy onwelvoeglik met sy maagd handel as sy oor die jeugdige leeftyd is, en dit so moet wees, laat hom doen wat hy wil. Hy sondig nie. Laat hulle trou.
Want ’n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man. Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man. Daarom moet die vrou ’n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele. En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie. Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God.
Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva.
Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is — sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.