Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen. Die vors eis, en die regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en hulle verdraai dit alles.
Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ’n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.
SWERF rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek—dan sal Ek daaraan vergifnis skenk. En of hulle al sê: So waar as die HERE leef, sekerlik sweer hulle vals. o HERE, is u oë nie op opregtheid gerig nie? U het hulle geslaan, maar hulle het geen pyn gevoel nie, hulle tot niet gemaak, maar hulle het geweier om tugtigting aan te neem; hulle het hul aangesig harder gemaak as ’n rots, geweier om hulle te bekeer. Maar ek het gesê: Hulle is maar die geringes; hulle het dwaas gehandel, omdat hulle die weg van die HERE, die reg van hulle God, nie ken nie. Laat ek na die grotes gaan en met hulle spreek, want hulle ken die weg van die HERE, die reg van hulle God. Maar hulle het almal saam die juk verbreek, die stroppe stukkend geruk. Daarom maak ’n leeu uit die bos hulle dood, ’n wolf van die wildernisse verniel hulle; ’n luiperd loer by hulle stede; almal wat daaruit gaan, word verskeur; want hulle oortredinge is baie, hulle afkerighede geweldig. ... die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?
Maar die owerpriesters en die ouderlinge het die skare oorgehaal dat hulle Barábbas moes begeer en Jesus ombring. Toe antwoord die goewerneur en sê vir hulle: Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat? En hulle antwoord: Barábbas! Pilatus sê vir hulle: Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus? Hulle sê almal vir hom: Laat Hom gekruisig word! En die goewerneur sê: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Maar hulle skreeu nog harder en sê: Laat Hom gekruisig word! En toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder ’n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien! En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!